STILBAAI NUUS - Die skoolsaal van Melkhout Primêr is Dinsdagaand, 13 Augustus gevul met pragtige gedigte en musiek met die skool se kultuuraand.
Die onderhoof, Reginald Baker, het as seremoniemeester opgetree en was weer sy pittige self, wat natuurlik gehelp het om die gehoor op te sweep en die deelnemers te kalmeer.
Azayiah du Plessis het die aand afgeskop met 'n akrobatiese dansitem en hierdie jong meisie het beslis 'n groot toekoms wat op haar wag.
Dit het sommer die gemoed vir die aand geskep en toe was daar geen keer nie.
Die gr. 1- tot gr. 3-leerders het spreekkore gehad en hulle onderwerpe was Ek's laat, Die waarheid oor visvingers en Paddapenarie wat natuurlik die gehoor laat skaterlag het.
Die skoolkoor het, Laat ons eer bring aan ons Skepper en I am a small part of the world gesing en toe was dit die gr. 4's se beurt.
Abigail Kleinhans se gedig was Wolke en Kihara van Beulen het die ernstige onderwerp Opvoeding getakel waarna Yuane Rossouw se gedig gehandel het oor Daardie Grootmense.
Die gr. 5-leerders het weer 'n spreekkoor gehad en hulle het gesê, "Daar's nie brokkoli op Mars nie."
Nazlia Willemse het die gr. 6-leerders verteenwoordig met haar gedig, Wiskundeklas en Nahum Rossouw, gr. 7, het gevra, "Kan ek myself 'n digter noem?"
Vir bietjie afwisseling het die orkes, uit Stilbaai, twee nommers gespeel: Andanté en Serabanda.
Uit die gr. 8-klas het Kaylie-Ann October haar gedig Begrafnis voorgedra en Whainecia Abrahams 'n Gewone man.
Dat daar sommer baie talent in Melklhoutfontein Primêr is, is nie te versmaai nie en die kinders kan met reg trots wees met hulle vertoning.
Die heerlike aand is afgesluit met die sing van die Volkslied.
Azayiah Rossouw het die kultuuraand afgeskop met haar akrobatiese danspassies.
Die skoolkoor saam met Pauline Hollis (links) en Tertia Jansen regs van hulle.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’