Update
RIVERSDAL NUUS - Die verhoor teen Jan van Rensburg kon steeds nie begin nie as gevolg van mediese inligting wat byna twee en 'n half jaar later in die staat se saak opgeduik het.
Van Rensburg word van strafbare manslag aangekla na 'n woordewisseling tussen hom en Chris Harmse op die plaas Peperduurfontein in die Kruisrivier-omgewing, Riversdal in Februarie 2016.
Harmse het 'n dag later in die Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai na 'n operasie aan sy enkel beswyk.
Die saak was reeds uitgestel vir verhoor tot 2 en 3 Augustus vanjaar, maar 'n onverwagse mediese verslag het tydens die verhoor opgeduik. Dié verslag is volgens Van Rensburg se prokureur, Christi Olivier in opdrag van Harmse se weduwee deur 'n privaat mediese deskundige opgestel en is meer as twee jaar na Harmse se dood bekom.
"Die verslag was vir meer as ses maande in haar en die staat se besit voor dit op die dag van verhoor aan die verdediging bekend gemaak is," het Olivier gesê.
In terme van die strafproseswet 51 van 1977 is 'n beskuldigde geregtig op afskrifte van sodanige deskundige getuienis vir doeleindes van voorbereiding vir die verhoor.
Vir die doel van 'n voorverhoor is die saak tot 6 Desember uitgestel. Omdat 'n mediese waardeerder (assessor) nog aangewys moet word, sal die saak weer moontlik uitgestel word.
Lees vorige artikels hier:
- Bewysstuk in Harmse-saak teruggehou
- van Rensburg verhoorafwagtend
- Saak teen boer uitgestel
- Boer dood na bakleiery oor watersloot
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'