WITSAND NUUS - ’n Inwoner van Witsand het onlangs die hoogste berg in Afrika en die vierde hoogste ter wêreld, berg Kilimanjaro, suksesvol uitgeklim.
Mari Gunter (51), wat ook 'n passievolle marathonatleet is, meen dat dit ’n belewenis is om dié massiewe berg in Tanzanië, wat 5 895 m hoog is, se piek te bereik.
“Die absolute high as jy by die laaste punt kom is onbeskryflik. Niemand kan daardie prentjie van jou wegneem nie.”
Gunter het vertel dat sy omtrent 25 jaar gelede vir 'n tandarts gewerk het wat Kilimanjaro geklim het en dat sy tóé al geïnspireerd was om dit ook te doen.
“Die foto's wat ek van sy klimtog gesien het was ongelooflik mooi en ek was seker dat ek dit ook met my eie oë wou sien.”
Dit het Mari sewe ure geneem om die klim tot bo te voltooi.
“Ons het om middernag begin klim. Ek was 07:00 heel bo en 09:30 weer onder in die kamp.”
Mari het vertel dat daar verskeie uitdagende aspekte tot die klim van Kilimanjaro verbind is; van die koue omstandighede en die sterk wind tot ’n gevoel van naarheid (op ’n sekere hoogte van die berg), erge hoofpyn en suurstoftekort.
“Al klim jy regtig stadig is die tekort aan suurstof ’n werklikheid. Jy vat kort-kort 2 minute om net asem te kry. Maar soos jy klim maak al die mooi daarvoor op,” het sy gesê.
Mari het ’n spesiale klip, in die vorm van ’n hart, bo-op die bergpiek gelos.
“My suster het my pa se geboortedatum en dag van dood daarop geskryf. Ek het haar belowe ek los ‘pappa se klip’ heel bo.”
Haar raad aan ander bergklimmers wat Kilimanjaro oorweeg: “Kry jou kop reg voor die tyd. Sien jou ‘prentjie’ reg bo by Uhuru. Jou gedagtes is by verre wat jou die meeste gaan beïnvloed. Stop enige negatiewe gedagtes. Jy gaan deur makliker en moeiliker tye gaan. Alles is tydelik.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’