Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Jong man van die dorp is so erg aangerand dat hy 'n noodoperasie aan sy skedel in Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad moes ondergaan.
Cruise Saayman (23) is na bewering omstreeks 03:00 Sondag 2 Februarie met 'n halwe baksteen teen die kop gegooi.
Hy is van Riversdal- na George-hospitaal oorgeplaas, vanwaar hy onmiddelik per Rooikruis-helikopter na Groote Schuur geneem is. Daar het hy Sondagaand 'n vieruurlange operasie ondergaan en is eers Dinsdag uit die intensiewe sorgeenheid na 'n gewone saal oorgeplaas.
"Hulle het my kind baie seergemaak," het Katriena (Babie) Saayman, die jong rugbyspeler se ouma wat sedert die voorval pal aan sy sy is, uit die hospitaal gesê.
"Hulle moes die stukkies been uithaal," het sy tante Marie Adams, by wie Saayman in Mitchellsplein tuisgaan, gesê. "Hy kan beweeg. Hy kan nog nie praat nie, maar hy kan verstaan en reageer. Sy gesig is nog erg geswel en daar is bloeding op sy brein, maar daaraan kan die dokters niks doen nie, dit moet vanself regkom"
Die familie is nie seker wat presies gebeur het nie. Die polisie het sy oupa Dawid Saayman en ouers Ronaldo en Desiree Saayman van Kwanokuthula omstreeks 04:00 van die voorval ingelig.
Volgens wat hulle gehoor het, het Cruise en sy vriende Saterdagaand in Aloeridge gekuier waar hulle na bewering in 'n woordewisseling met 'n ander groep mans betrokke geraak het. Hulle het glo begin wegsstap toe hulle 'n rumoer hoor. Toe hulle omkyk, sien hulle hoe een van hul vriende met 'n mes gesteek word.
Cruise het blykbaar die gewonde vriend in 'n voertuig help klim en self ingeklim. Toe hulle wegry, het iemand 'n halwe baksteen deur die ruit gegooi wat Cruise teen die kop getref het.
Die eienaar van die voertuig het die twee beseerdes reguit na Riversdal-hospitaal geneem. Die vriend is van daar na Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai geneem en is reeds ontslaan.
Volgens Desiree is Cruise nie 'n moeilikheidmaker nie. "Hy is 'n gekwalifiseerde lewensredder en sou Maandag by SSK begin werk het. Hy wou sy vriend help, maar toe kry hy die seerste," het sy hartseer gesê. "Hy is nie 'n persoon wat ander hinder nie, hy terg net en maak grappe," het sy oupa vertel.
Volgens lt.kol. Delecia Isaacs, bevelvoerder, word twee klagtes van ernstige aanranding ondersoek en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
A 23-year old who was assaulted with half a brick had to undergo surgery in Groote Schuur Hospital in Cape Town. He was helping an injured friend when someone hurled the brick at him while he was seated inside a vehicle.
Cruise Saayman se ma Desiree en pa Ronaldo kyk na ’n foto van hom op die selfoon. Foto: Vilando Kleinhans
Lees 'n vorige artikel: Jong man erg beseer in baksteengooiery
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'