Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Anita Peens (16) was slegs sewe jaar oud toe haar arm tydens 'n busongeluk vergruis is.
Haar lewe het drasties op 6 Augustus 2009 verander nadat haar arm net onder haar skouer afgesit moes word.
Die middag na skool op pad huis toe het 'n voertuig voor hul bus ingedraai. Die bestuurder het 'n botsing probeer vermy en uitgeswaai. Hy het egter beheer verloor, die bus het begin kantel en na die regterkant toe omgeval, waar sy gesit het.
Die venster het gebreek en haar hand en arm het onder die bus op die teerpad geskuur.
Sy vertel: "Ek kan onthou ek het aan my veiligheidsgordel gehang. Nadat ek wakker geword het, het ek die teer gesien. Vreemde mense het my uit die bus gehaal en herhaaldelik vir my gesê ek moenie na my arm kyk nie. Iemand het my toe na die ambulans gedra en my met 'n lap toegegooi sodat ek nie my arm kon sien nie."
Terwyl die sprankelende meisie vir Suid-Kaap Forum haar verhaal vertel, kry sy trane in haar oë en sê: "Ek is jammer, tannie, ek huil elke keer wanneer ek hierdie stukkie vertel."
Sy vee die trane weg, haal diep asem en sê met 'n bewerige stem: "My pa huil nooit en tot hy het gehuil toe hy my arm gesien het. Hy het met sy bakkie aangekom. Hy het uitgespring, na my gehardloop, die lap opgelig en dadelik begin huil. Ek het heeltyd vir hom gesê ek wil slaap, ek is baie moeg, maar hy het vir my gesê ek moet asseblief nie slaap nie."
Later het sy in die hospitaal met haar ma langs haar wakker geword. Sy het vir haar ma gevra: "Mamma weet my arm is af?"
Anita onthou goed dat sy dadelik wou fietsry nadat sy ontslaan is. Met die eerste probeerslag het sy 'n paar keer geval, maar vinnig reggekom. Om terug te gaan laerskool toe, was nie vir haar 'n probleem nie. Almal het haar geken en baie van die kinders in dié skool was ook in die ongeluk.
Kyk 'n video hieronder:
Later het hulle verhuis en sy moes in 'n nuwe omgewing aanpas waar mense weer na haar gestaar het.
"Sommige van die hoërskoolkinders het my gespot en baie keer vir my gesê ek sal niks kan regkry nie. Ek het my net nie gesteur daaraan nie. Somtyds raak ek egter negatief en voel of ek niks in die lewe sal kan bereik nie." Haar vriendinne en ouers praat haar gereeld moed in.
Een van haar leuses is: "Wanneer ek nie vra vir hulp nie, moenie my probeer help nie."
Meeste van haar alledaagse take kan sy self hanteer. Een van die dinge wat haar positief hou is 'n Bybelversie teen haar koshuiskamermuur, Filippense 4:16.
Anita Peens. Foto: San-Marié Cronjé
Naas modelwerk was sy 'n kranige boogskut en het die Afrika-kontinentrekord verbeter. Na 'n besering kon sy nie meer boogskiet nie en moet 'n spesiale harnas kry. Dit is ongelukkig baie duur en hulle soek steeds borge wat 'n bydrae kan maak.
Sy is baie lief vir kinders en sal graag 'n onderwyser wil word vir kinders met spesiale behoeftes.
"Ek herinner altyd myself dat ek in myself moet bly glo, anders sal niemand in my glo nie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'