Update
STILBAAI NUUS - Liam Claassen (12), 'n gr. 6-leerling aan Laerskool Bertie Barnard is Maandagoggend, 15 September, in die George-hospitaal oorlede.
Liam was in 'n diabetiese koma en die dokters het gesê dat hy lewensgevaarlike diabetiese keto-asidose ontwikkel het.
Liam se suikervlakke was Sondagoggend te hoog en nadat sy ma, Marietha Rheeder, alles in haar vermoë gedoen het om dit af te bring is hulle na die Riversdal-hospitaal.
Alle pogings daar het ook misluk en Liam is inderhaas na die George-hospitaal oorgeplaas waar hy in die noodgevalle-eenheid opgeneem is.
Daar het dokters onverpoos probeer om haar seuntjie te red, maar ongelukkig het niks gewerk nie.
Maandagoggend het Liam se asem-haling rustiger geraak en later ook sy polsslag.
Geen polsslag
Die dokters het in 'n stadium vir Marietha gevra om die kamer te verlaat toe hulle geen polsslag meer kry nie.
Na sowat 35 minute se pogings om hom by te bring, is Liam om 04:00 dood verklaar.
Na sy dood het die Stilbaai-gemeen-skap Marietha in watte toegedraai met hulle liefde en omgee en dit dra haar deur hierdie tyd.
Op Erfenisdag was die gemeen-skapsaal in Stilbaai volgepak met inwoners en leerders van Laerskool Bertie Barnard wat hierdie besonderse jong seun se lewe kom vier het.
Voluit en vreeslose lewe
Marietha sê dat Liam 'n seuntjie was wat voluit en vreesloos geleef het.
Hy het nie 'n bang haar op sy kop gehad nie en het kans gesien vir alles in die lewe. Hy was 'n diereliefhebber en versot op die buitelewe.
Hy het ook 'n groot voorliefde vir alle soorte sport gehad.
Liam het volgens Marietha die mooiste, sagste, mees opregte hartjie gehad en dat hy seker met die hele dorp vriende was.
Sy beste vriend het gesê dat Liam hom geleer het dat jy altyd jou drome moet najaag en dat jy dit kan bereik.
Huldeblyk
Die Laerskool Bertie Barnard het op hul Facebook-blad geskryf: "Sy heengaan laat 'n groot leemte en ons harte is by sy familie, vriende en alle leerlinge wat deur sy vriendelikheid en menswees geraak is.
Al die mooi herinneringe van hom sal in ons skool bly voortleef."
By die skool het die vlae halfmas gehang in eerbied vir Liam.
Ruzaan de Jager van die Life Buoy Familiekerk het die diens gelei en onder andere gesê dat Liam se hele bestaan gegrond was op die wete dat die Here met hom is soos dit staan in Josua 1 vers 9.
In sy huldeblyk het die onderhoof van Laerskool Bertie Barnard, Shaun Doubell, in 'n getuigskrif aan sy moeder gesê dat dit 'n voorreg was om Liam in sy klas te hê.
Marietha is in Julie met sarkoma-kanker gediagnoseer en aanvanklik wou hulle haar been afsit, maar die dokters in die kankerafdeling by Grootte Schuur in die Kaap het anders besluit.
Sy sal sodra sy gereed is, vir ses weke bestraling ontvang en dan sal die gewas hopelik genoeg gekrimp het sodat dit uitgehaal kan word.
Sy sal hierdie stryd sonder haar vegtertjie en rots moet deurgaan, maar hy sal nog steeds altyd naby haar wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’