Gallery
RIVERSDAL NUUS - Sonsoekers en waterplassers kan nog nie lentejolyt by die Dibiki-swembad geniet nie.
Tradisioneel open die streek se openbare swembaddens op Lentedag, 1 September, maar nie vanjaar nie.
“Ons is besig met herstelwerk en opgradering. Ons hoop om teen die einde September of vroeg in Oktober oop te maak,” sê Mart-Marie Pretorius, bestuurder by die Dibiki-vakansieoord.
FOTOGALERY: Dibiki-swembad in Riversdal opgeknap
Dié oord, voorheen as die Takkieskloof-karavaanpark bekend, word reeds sedert Augustus 2019 deur Dibiki op ‘n dertigjaartender van die Hessequa-munisipaliteit bestuur.
Dekades se verweer vereis dié opgradering. Herselwerk het reeds in Mei vanjaar begin, maar die wisselende weer het die konstruksieproses belemmer.
Dreinering-, pomp- en die pypstruktuur word vervang, lekkasies word herstel en die swembad word met ‘n nuwe veselglas-binnekant herbou. Die hele ruimte rondom die swembad word opgeknap en met nuwe plaveisel uitgelê.
Daarna moet die swembad met 750 000 liter gevul word.
Pretorius sê die Hessequa-munisipaliteit het ingestem om gedeeltelik by te dra tot die opgradering.
Dié vakansieoord bestaan uit twaalf selfsorgeenhede, sestien kampstaanplekke met privaat ablusiegeriewe en sestien kampeerplekke met openbare ablusiegeriewe.
Kry meer inligting by info@dibikiriversdal.co.za of by 068 213 2845.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’