Update
STILBAAI NUUS - Om 73-jaar getroud te wees, is langer as wat baie mense die voorreg het om te leef – en dit sit ook nie in enigiemand se broek nie, maar kos sekerlik vasbyt, op die tande kners… en baie liefde!
Chris (97) en Kitty (93) Steytler het Saterdag, 19 September hul 73ste huweliksherdenking saam met hul bure, Lena en Peet Marx, asook Lettie Naudé gevier.
Een van die egpaar se dogters, Elize Botha het heerlike eetgoed gemaak en gesorg vir koue vonkelwyn.
Die Steytlers is die afgelope jaar in Carewell op Stilbaai woonagtig en geniet nog redelik goeie gesondheid. Kitty is steeds 'n kranige tuinier en Chris is veral lief vir lees.
Die egpaar is in 1947 in Waterval Boven getroud. As jong regsgeleerde het Chris daar in die landdroskantoor sy regsloopbaan begin en het vir Kitty agter die toonbank in die poskantoor raakgesien. Hy sê hy het dadelik geweet dat sy, sy vrou sou word.
Chris was ook 'n radio operateur in die tweede wêreldoorlog en kan steeds in detail sekere gebeure oorvertel.
Behalwe vir 'n klompie jare wat Kitty administratiewe werk by die vars produkte mark in Bloemfontein gedoen het, was sy 'n tuisteskepper en ma vir hul vier kinders, waaronder twee seuns en twee dogters.
Hulle het ook 13 kleinkinders, 10 agterkleinkinders met 'n 11de onderweg. Pragtige tuine en baie aandag het hul altyd gehad.
Hoewel hulle in 1984 afgetree het, het Chris vir nog baie jare onder andere as assessor in die hooggeregshof gesit. Hy was ook burgemeester van Swellendam.
Hulle was albei kranige tennisspelers, maar toe hul besluit hulle raak te oud daarvoor het Chris in sy sewentigerjare gholf begin speel tot op die ouderdom van 95. Hy het ook op 88-jarige ouderdom sy hand aan rolbal gewaag wat hy vir drie jaar so saam met die gholf gespeel het.
Vorige artikel: Meer as 'n leeftyd getroud
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'