Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die skool het op 18 April hul jaarlikse entrepreneursaand by die skool aangebied. Dit is voorafgegaan met sokkerwedstryde, 'n 'beesloop' en boeresport.
Die wedstryde en boeresport, veral items soos rou eiers wat vir mekaar gegooi is, sakresies, pittespoeg en toutrek het vir groot pret gesorg terwyl almal in spanning gewag het dat die koei wat in die kampie gewei het, haar 'ding doen' sodat bepaal kon word wie die OK-koopbewys wen.
Tradisioneel verkoop leerders kaartjies waar geskat word waar die koei haar 'besigheid' gaan doen en die persoon wat die naaste geraai het, is die wenner.
Dié keer was dit Johan Roodman wat met die prys weggestap het, maar eers nadat daar sommer heelwat aksie was toe die koei uit die kampie uitgekom en almal behoorlik besig gehou het om haar weer aan te keer.
Die bokspringe moes gehelp het, want daarna het sy sommer gou-gou haar 'merk' gelaat.
In die senior-afdeling van die kaartjieverkope was die wenner Sasha-lee Grobler, gevolg deur Amber Vorster met Ruan Bouwer en Hendrik de Beer wat die derde plek gedeel het. Hulle het ondermeer 'n selfoon en data gewen.
Die koei het eers in die pret op die skoolterrein gedeel voor sy haar 'ding gedoen' het.
Die Speelgoedfabriek het die pryse vir die junior-verkopers geborg waar Louis de Jager die meeste kaartjies verkoop het, met Zach Olivier tweede en Mieke Calitz derde.
Die gr. 7-entrepreneurs se stalletjies was weereens baie gewild en selfs die sterk wind kon nie keer dat die heerlike kos, interessante lekkergoed, speletjies en speelgoed en selfs vars groente en vrugte van die hand gesit word nie.
Lees 'n vorige artikel: Koei doen haar ding by beesloop
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'