STILBAAI NUUS - Hessequa se kunstenaars het vanjaar 300 A5-skilderytjies ten bate van die Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum in Stilbaai geskenk om opgeveil te word tydens die derde Night-of-Art-glansgeleentheid verlede week.
Daar het nog honderd oorgebly. Irma Huysamer, wat verskeie skrywers, uitvoerende en beeldende kunstenaars op sosiale media bemark, het ‘n blink gedagte bedink: benut die Gratitude Expo en dié naweek se ope-ateljeeprojek, aangebied deur die Hessequa-kunsroete (HSQA).
Irma en die kunstenaars Sonja Magerison, Marina Stadler, Jean Grooff en Trudie Buys Schoombee het vinnig ‘n plan beraam om die oorblywende werke uit te stal.
Dié oorspronklike kunswerke, wat gratis deur van die streek se kunstenaars geskenk is, is nog tot môre, Saterdag 28 September teen ‘n skenking van R100 elk beskikbaar. Die kleinkunswerk spog met puik, kreatiewe gehalte, meen kunsliefhebbers.
Stilbaaiers en vakansiegangers, van wie vele se ouers en familielede, gebruik maak van die verskeie dienste wat Jagersbosch vir bejaardes aanbied, het nou die geleentheid om 'n oorspronklike A5-skildery te besit en hul omgewing te verfraai.
Gastehuis-eienaars word genooi om ‘n draai te maak en werke vir hul kamers aan te skaf en daardeur nie net Jagersbosch te ondersteun nie, maar ook die streek se kunstenaars aan gaste bekend te stel.
Die werke is hier besigtigbaar:
- Trudie Buys Schoombee, Reservoirstraat 20, Stilbaai-Wes. Saterdag 28 September 9:30 – 15:00
- 30 skilderye vir Jagersbosch.
- Sonja Margerison en Marina Stadler, Stilbaai Gratitude Expo, Hoofweg 11, Stilbaai-Oos.
- Vrydag 27 September 10:00 – 16:00
- Saterdag 28 September 9:30 – 15:00
- 70 skilderye vir Jagersbosch.
Kom soek jou skildery uit. Verleen kleur teen ‘n muur of gee dit as 'n geskenk vir 'n geliefde.
Dit is ‘n deernisgebaar en omgee-uitreik deur die gemeenskap vir die gemeenskap.
Só lyk van die geraamde kleinkunswerkies wat nog tot Saterdag teen R100 stuk beskikbaar is. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’