Update
HESSEQUA NUUS - 'n Droom is op 20 Desember bewaarheid toe die uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, Grant Riddles 'n kunsuitstalling by 'n trou- en funksievenue buite Jongensfontein amptelik geopen het.
Die asemrowende uitsig en pragtige kunswerke van 31 kunstenaars van Hessequa was 'n volmaakte kombinasie.
Sonja Margerison, Stilbaai Hessequa Kunsroete-verteenwoordiger en sameroeper wat die hele tentoonstelling georganiseer het, se mikpunt is dat hierdie tentoonstelling 'n jaarlikse instelling sal wees en dat al die kunstenaars van Hessequa sal hande vat en een massiewe uitstalling daarstel. Daar is immers 90 kunstenaars in Hessequa.
Die doel van die weeklange uitstalling was om inwoners en besoekers van die kuns en kunstenaars van die streek bewus te maak, maar ook om die kunsroete deel van die streek se toerisme aantrekkingskrag te maak.
In wat 'n eerste is in die land, het Hessequa Kunsroete-verteenwoordiger Nicole Hein QR-kodes vir Witsand, Heidelberg en Slangrivier, Riversdal, Jongensfontein, Stilbaai en Melkhoutfontein, Albertina en ook Gouritsmond geskep.
Dit gee toegang tot 'n aanlynkaart van die spesifieke dorp met inligting van kunstenaars, kunsgalerye, uitstalruimtes, asook die Vriende van die Kunsroete-besighede.
Vir enige navrae rakende die kunsroete kan Margerison gekontak word (072 222 4168).
Sonja Margerison aan die woord terwyl Richard Webb bystaan. Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'