Gallery
RIVERSDAL NUUS - Suid-Afrikaners - met uiteenlopende kulturele agtergronde - herdenk 16 Desember om verskillende redes.
Afrikaners herdenk dit as Geloftedag, toe die Voortrekkers 'n gelofte voor God afgelê het om 'n kerk te bou en die dag as 'n danksegging te vier as hulle die Zoeloes in die Slag van Bloedrivier in 1838 sou verslaan.
FOTOGALERY: Die Geel Mossie se Opwip-feesgalery
Vir inheemse Suid-Afrikaners is 16 Desember die stigting van die Umkhonto we Sizwe paramilitêre vleuel van die African National Congress (ANC) in 1961 - én vreedsame betogings teen rasse-ongeregtigheid.
Sedert 1995 vier mense dié nasionale vakansiedag om versoening, genesing en eenheid te bevorder.
Dikwels gaan die vieringe met verskeie feeslike geleenthede gepaard.
Gepas open die Geel Mossie se Opwip-feesgalery op Versoeningsdag. Hier stel tien plaaslike kunstenaars oor die 250 kunswerke in verskillende genres uit wat die kuns, kultuur en gemoed van die gemeenskap en samelewing weerspieël.
Jeug en rypheid versoen in kreatiwiteit - van die energieke Rivhka van Merwe (19) se eksperimentele, gemengde media tot die deurwinterde Julie Wilson (78) se noukeurige botaniese waterverfkuns.
Daar is 'n omgee-sagtheid en spontane, uitbundige vrolikheid in die werke van Marilse Lombard en Isabel du Toit.
Verrassende, ánderse uitdrukking is treffende eienskappe van Lizett Kotzé en Liza Naudé se kuns. Robyn Learmonth se potterbakkerkuns word gekenmerk aan estetiese gebruikswaarde en Janet Muller se kleurryke fynbosmandjies voltooi dié pragprentjie.
Die manne - Danie Cronjé, Keith Grieve, Koos Gagiano en James Stanley - is meer robuust, sterk, skerp en aards met hul kwaste.
Vir elkeen beteken kuns iets ánders - maar almal fokus op die siel van kreatiwiteit.
Die jeugdige Rivkah van der Merwe, wat die afgelope paar jaar talle toekennins vir haar werke ingepalm het, som die doel van kuns só op: "’Kuns hef op. Dit is uitdrukking van identiteit - en weerspieël ’n gemeenskap se kultuur, tradisies en erfenis."
Rivkah vertel unieke stories wat oor generasies heen strek en mense se identiteit versterk. Dis 'n universele taal wat kulturele en taalkundige grense oorbrug en mense bemagtig om mekaar op emosionele en intellektuele vlak te verbind.
“Sosiale Kommentaar: Kuns dien dikwels as ’n sosiale kommentaarmedium om sosiale kwessies, ongelykheid en politieke uitdagings aan te spreek en bewuswording te skep.”
Vir haar ontwikkel kuns 'n mens se kreatiwiteit en verbeelding. “Dit moedig kreatiewe denke aan - wat noodsaaklik is vir innovasie. 'n Wêreld sónder kuns is 'n wêreld sónder kleur.”
Nagenoeg 50 van haar kunswerke, skildery, tekeninge en sketse kan hier besigtig word.
* Die Opwip-feesgalery duur nog tot 22 Desember by die Geel Mossie, Langstraat 23 (op die hoek van die Ou Tronk). Van tienuur soggens tot vieruur smiddae.
* Loer gerus na die foto-galery hierby en word begeester.
* Suid-Kaap Forum loer die res van die week in om die kunstenaars te ontmoet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’