STILBAAI NUUS - Die somervakansie word warmer, want tussen die koel seebriese en braaivleisgeure deur word daar in kreatiewe hitte gekuier.
Dit is tyd vir die derde streekkunstentoonstelling deur kunstenaars van die Hessequa-kunsroete.
Vanjaar pronk 23 van die streek se oor die honderd kunstenaars se kunsvernuf by die Stilbaai-gemeenskapsaal van 6 tot 8 Desember.
Ja, die Hessequa-kunsroete se besondere kunstenaars kies koers na die strand om besoekers met hul talent te verras.
Dis tyd vir kuiergaste en hartsmense om saam te kuier, lang ente strandlangs te stap en die voorwerpe te eien wat kuns word.
“Met ons tema Kuierkkuns skep ons 'n geleentheid om ons harte oop te maak en ons verbeeldingsvlugte op ‘n skeppende manier met kunsliefhebbers te deel.
"Die uitstalling gee besoekers die kans om kunstenaars te ontmoet, saam te kuier, die kuns te beleef en om, as hulle wil, iets eiesoortig tot hul ruimtes toe te voeg,” sê Louise Kluyts, die voorsitter van die Hessequa-kunsroetekomitee.
Vanjaar se kunstenaars kom van wyd: van Swellendam tot Gouritsmond en Riversdal tot Witsand.
“Die skilderye, sketse, keramiekkuns en fotografie is van die hoogstaande gehalte en die kuns deur Hessequa se jeug is verrassend belowend. Ons is opgewonde oor hierdie versameling kunswerke bymekaar. Dié tentoonstelling beloof om te verras! Kom, kuier saam met kuns!” nooi Louise.
Sy sê die Stilbaai-gemeenskapsaal skep ‘n ruimte waar gesinne, vriende en alleensoekers die jaar kan betrag, oor die wêreld se vergrype, mislukkings, deernis en trotse triomf kan peins en jubel - en, binne ‘n milieu van kreatiwiteit - hernieude sielsbekoring kan ontdek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’