Will Steenkamp, verteenwoordiger van Hoër Landbouskool Oakdale op die Kultuurraad, het die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen, en daarop gewys dat elkeen sy/haar talente optimaal moet gebruik en ontwikkel.
Die sekretaresse, Marize Erasmus het oorkondes aan vier dames oorhandig, Ena Geldenhuys wat reeds 25 jaar 'n offisier in die Voortrekkers is en steeds toegewyd en 'n jeugleier by uitnemendheid is; Petro Botha ontvang 'n oorkonde vir haar reuse bydrae sedert 1998 om die RATEM Eisteddfod na hoogtes te lei; Mariëtte Myburgh en Martha de Beer, van Hoërskool Langenhoven, wat sedert 2005 die skool se debat en redenaars behartig, is vir hul reuse bydrae vereer. In 2012 is dié skool die énigste hoërskool in die landswye kompetisie waar leerders in al die afsonderlike kategorieë, debat én redenaars, op Nasionale vlak, meeding.
Op skolevlak het die volgende leerders oorkondes ontvang: Jaco Uys (5 diensjare) , Marguerite Marais (8 diensjare), Christelle Vermeulen (11 diensjare), Krismari Lombard (6 diensjare) en George Uys (11 diensjare). Hul is vereer met die Presidentsverkenner-toekenning en is 'n groot trots vir die Voortrekkerkommando.
Megan Myburgh en Euné Cronje, leerders van Volschenk Musiek-akademie, is albei op ALMSA se ererol.
Hoër Landbouskool Oakdale se debatspanne verteenwoordig die Suid-Kaap tydens die halfeindronde van die ATKV-debatskompetisie in George. Jaco Koekemoer, AJ Stander, AJ van Wyk, Pieter Uys, Kobus Strauss, Zak Liebenberg, Casper Labuschagne en Schalk-WillemViljoen, word vereer vir hul bydra op dié gebied.
Drie dogters van Hoërskool Langenhoven word tydens die halfeindronde te George as wenners in hul afsonderlike kategorieë aangewys en dring daarmee deur na die Nasionale ronde te Rustenburg waar hul hul 'vrou staan'! Erika Oosthuizen, Annabelle Lloyd en Duhne Liebenberg ontvang oorkondes vir hiérdie kultuur-mylpaal.
Aldu Duminy, benoem deur Hoërskool Langenhoven, ontvang 'n oorkonde vir uitsonderlike prestasie tydens die Poortkompetisie. Dis die hoogste toekenning in skole-letterkunde. Twee van sy skryfstukke word in die Poort-bundel opgeneem.
'n Smaakvolle ligte aandete en nagereg is deur Magda Jackson van Enja's voorberei en het ongeveer 70 gaste heerlik saam geëet, gesels en gekuier. Diederick Geldenhuys het gesorg vir 'eg Riversdalse blomme' op die tafels. Tussendeur is daar geluister na 'n pragtige blokfluit-item, gelewer deur Lara du Toit en Petro Botha. Schalk-Willem Viljoen het die gedig waarvoor hy 96% tydens die onlangse Eisteddfod behaal het, voorgedra. Meagan Myburg het met 'n pragtige klavier-item, ekstra luister aan die aand verleen.
Die voorsitter, Alida Duminy, het die verrigtinge afgesluit met die woorde van Walter Chrysler: "Die geheim van sukses is passie vir die lewe. Dis die mense wat entoesiasties kan raak oor dinge, wat 'n sukses maak van die lewe. 'n Mens kan absoluut enigiets regkry as jy begeesterd kan raak daaroor. Geesdrif plant sterre in mense se oë, sit veerkrag in hul tred. Lewenspassie is die dinamiek agter alle vooruitgang."

In die agtergrond staan die leerders van Hoër Landbouskool Oakdale wat die Suid-Kaap tydens die halfeindronde van die ATKV-debatskompetisie in George verteenwoordig het, en tydens die aand vereer is, van links is Schalk-Willem Viljoen, Casper Labuschagne, Zak Liebenberg, Kobus Strauss, Pieter Uys, AJ van Wyk, AJ Stander en Jaco Koekemoer.

Redenaars van Hoërskool Langenhoven - Erika Oosthuizen, Duhne Liebenberg, en Annabelle Lloyd.