RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal Tuinbouklub en vriende het Mosselbaai-omgewing en Friemersheim besoek.
Die klub, voorheen bekend as Greenfingers-tuinbouklub, se eerste besoek was aan die Harry Giddy-park.
"Die park is voorwaar 'n juweel reg in die middel van Mosselbaai en die beste van alles is dat toegang heeltemal gratis is," het een van die lede gesê.
Die park het vele diere, eksotiese voëlspesies, verskeie bome soos melkhout en waterbessie en interessante fokuspunte in die tuin. Die park bied ook geleentheid vir kinderpartytjies, troues of sommer net 'n salige piekniek op die grasperk.
Anzette Finnemore vertel: "Ons het die vriendelike Unice, wat die park se wandelpaaie skoon en netjies van onkruid hou, ook ontmoet. Op jou pad uit is daar 'n rooi boks waarin jy 'n klein donasie kan los as bydrae vir kos vir die diere in die park."
Die Groot-Brakrivier-museum in Amy Searlestraat was die tweede besoekpunt. Dié gebou, wat in 1902 opgerig is, was eens op 'n tyd 'n skool.
Hier het die groep 'n skuifievertoning van Die storie van Shweshwe geniet. Na die skuifievertoning het hulle die Shweshwe-winkel in Friemersheim besoek.
"Ons klublede is vriendelik deur Nelma Ruschioni en Petra Jordaan en hulle span verwelkom. Hier kon ons lede heerlik smul aan warm drink- en eetgoed. Ons is bederf met Petra se laventel-koeksiters, Cinty (eienaar van Friemersheim Sewing Group) se melktert en 'n bobotie-bondeltjie wat deur Hester Uithaler, eienaar van die vrolike tuin, gemaak is."
Die vierde besoekpunt was die Friemersheim-kwekery. Hier het Petra Jordaan die groep meer oor die geskiedenis van die laventel-kwekery vertel en meer van die verskillende soort laventelplante geleer.
Klublede is met 'n heerlike middagete by die unieke Ilita Lodge op Groot-Brakrivier bederf. "Dié lodge is op 'n stil heuwel geleë en word deur die panoramiese uitsigte van die riviermond, die Indiese oseaan, beeldskone berge en Mosselbaai omring. Hierdie versteekte juweel het behoorlik ons asem weggeslaan."
Laastens het hulle na Hough's Herbal Hub in Mossieneslaan op Groot-Brakrivier vertrek. Hulle was aangenaam verras deur Cecile Hough se kruietuin en kennis van alle soorte kruie waaraan jy kan dink.
"Ons het geleer hoe sitroengras, heuningbostee en roosmalva baie suksesvol in 'n drankie gebruik kan word."
Hough maak ook 'n kookbossie wat blare met 'n hoë veselinhoud bevat. Die kruie word saamgebind en by jou kos gevoeg terwyl dit kook en kan agterna maklik verwyder word.
Haar interessante Tassiemassie is 'n ruiker van kruie wat sy vir pasiënte in die hospitaal uitdeel.
"By dié immergroen en stylvolle kruiedame het die tyd vir ons almal stilgestaan. Ons kon heerlik klets en proe aan haar kruietee."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'