RIVERSDAL NEWS AND VIDEO - Panorama Primêr se senior koor het tydens 'n landswye skoolkoorkompetisie op 10 Junie, Sing in Harmonie, wat deur kykNET aangebied word, deurgedring na die eindronde van die Suidstreke wat op 2 en 3 Desember in Port Elizabeth plaasvind.
Die koor het die gehoor geraak met hul weergawe van die Griekwa Onse Vader van Koos du Plessis, wat deur Alna Smith van Pretoria vir hulle verwerk is.
"Die beoordelaars was werklik beïndruk en ons het baie goeie kommentaar ontvang. Een van die beoordelaars het selfs 'n traantjie gepink," vertel mev. Delycia Witbooi, die koor se dirigent wat ook 'n trofee vir beste dirigent verower het.
"Die kinders het die Griekwa-verwerking van die gebed so gewyd, uit die hart en met kinderlike onskuld tot binne 'n mens se diepste binnegoed gesing."
Die koor het op 18 Mei aan die South African Schools Eisteddfod (SASE) in Plettenbergbaai aan vier kategorieë deelgeneem, waaronder 'n mannekoor van 60 wat vir die eerste keer ingeskryf het. Hulle het in al vier 'n tweede plek verwerf.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'