RIVERSDAL NUUS - Almal wat meer wil weet oor hul familiegeskiedenis kan gerus Maandag 14 Oktober ’n draai maak by Hoërskool Langenhoven.
Abrie de Swart, voorsitter van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) verskaf om 18:00 in die personeelkamer die stigting van ’n besprekingsgroep van die Suid-Kaapse tak van die genootskap. Volgens hom is die GGSA in 1964 gestig en het tans 12 takke in die land, waarvan die Suid-Kaap tak, wat in 2013 gestig is, die jongste is.
“Die genootskap se doel is om deur sy lede navorsing in familiegeskiedenis te doen. Artikels oor die navorsing word elke kwartaal in die tydskrif Familia gepubliseer.”
De Swart het byvoorbeeld ’n artikel met die titel ‘In die wieg vir die podium’ gepubliseer wat handel oor families waaruit sportlui gebore word. Hy fokus veral sterk op rugby en die geskiedenis van families wat Springbok-rugbyspelers opgelewer het.
Die GGSA het sy eie webtuise waar navorsing oor families gepubliseer word. Daar is ook navorsingsmateriaal wat verwerk word uit inligting wat verkry word tydens verkiesings, grafopskrifte, kerkregisters en geboorte- en huweliksertifikate wat gebruik kan word om familiegeskiedenis na te vors.
“In verskeie lande in die wêreld is genealogie ’n gewilde stokperdjie,” sê hy. “In die VSA is dit die derde belangrikste kulturele tydverdryf. In Skotland, Ierland, Engeland en selfs Spanje speel genealogie net so ’n belangrike rol in die toerismebedryf. Oral in die wêreld soek mense hul voorsate en skryf graag stories oor die bydrae wat hul families tot ’n dorp of omgewing gelewer het. Dié bydrae kan self nasionaal of internasionaal wees.”
Kontak Abrie de Swardt by 072 348 1961vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'