Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Dertig lede van die Riversdal-tuinbouklub het die maandelikse uitstappie na Swellendam op 12 Junie meegemaak.
Die klublede se slagspreuk vir die dag was dat die winterkoue hulle nie sal onderkry nie, maar dat hulle enige tyd van die jaar die mooiste tuine sal uitsoek.
Die eerste stilhouplek was by Oude Post by Buffeljagsrivier waar almal heerlike warm roosterkoeke en koffie of tee geniet het. Toe het hulle oor die pad gestap na die 4 Gardens-kwekery.
Twee privaat tuine in die dorp is besoek. Die eerste was Cathy van Niekerk se tuin in Qualbergstraat. Haar tuin slaan jou asem weg, want jou oog word bederf met 'n groot verskeidenheid plante en sagte kleure. Dié Engelse tuin met 'n Suid-Afrikaanse invloed het 'n treffende uitsig op die majestueuse Langeberge.
Toe het hulle by Moira Shady se tuin by die Mountain View-gastehuis in Drostdystraat aangedoen. Sy en haar man, David, het die gastehuis in 2017 oorgeneem en dadelik die tuin begin uitlê. Die grootste uitdaging was om die tuin teen die steil hellings te omskep in 'n lushof wat die gaste sal geniet. Hulle het verskillende terrasse gevestig sodat elke kamer in die gastehuis sy eie privaat terrastuin het wat meestal met vetplante spog.
Die Sulina Fairy Garden was die vierde besoekpunt vir die dag en dit was vir almal 'n heerlike verrassing. Dit is die perfekte kuiertuin waar die kind binne-in jou weer wakker word sodat jy al met die voetpaadjie langs tussen die mooiste feetjies deur huppel.
Hierna het hulle 'n ligte middagete by Jan Harmsgat geniet. Die plaas is tussen Swellendam en Ashton geleë en bestaan uit neut-, granaat- en olyfbome. Die mooi, oop grasperke is die perfekte plek vir 'n piekniek. Die drie historiese geboue dateer uit die 1700's. Die plaas het in 1723 Jan Harmansz Schat (treasure) geheet, wat mettertyd in die volksmond na Jan Harmsgat verander het. Die sogenaamde 'republiek van Swellendam' het drie maande bestaan voor dit in 1795 met die Britse besetting in die Kaap tot 'n einde gekom het. As jy meer oor die geskiedenis wil weet, is dit beslis die moeite werd om hier aan te doen wanneer jy deur die Wes-Kaap reis.
Die Rooiklip-kwekery was die laaste stilhouplek vir die dag. Die aalwyne in die kwekery was vol in die blom, wat gesorg het vir 'n pragtige prentjie. Die kwekery spog met plaaslike aalwyne, maar ook spesies uit Noord-Afrika en Madagaskar. Daar is ook 'n groot verskeidenheid vetplante onder een dak. Die kwekery is gesog vir sy waterwys plante vir droogtebestande tuine, en dit het 'n mens net weer laat besef hoeveel kleur en tekstuur vetplante en aalwyne aan jou tuin en huis kan verleen. Na 'n vol dag is hulle terug huis toe met baie mooi herinneringe.
Drie nuwe lede het pas by die klub aangesluit, wat die ledetal op 48 te staan bring. Kontak Anzette Finnemore by 072 189 3549 vir meer inligting.
Van links: Lettie Murray, Chrissie Petersen en Lillien de Jager.
Van links: Cathy van Niekerk, gasvrou by die eerste privaat tuin op Swellendam, en Annatjie Joubert.
Lees 'n vorige artikel hier: Tuiklub swymel oor Swellendam
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'