Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Lukhanyo-crèche in Kwanokuthula is een van die projekte wat die Hessequa-munisipaliteit in die holte van sy hand hou.
Burgemeester Grant Riddles en speaker Andrew Stroebel het die kleuterskool Vrydag 30 Augustus besoek om goeie nuus oor te dra.
"Die skool het erg onder diefstal deurgeloop en om die situasie te verbeter, gaan ons diefwering laat aanbring," het Riddles gesê. "Ons gaan ook nog 'n klaskamer laat aanbou. Ons wil 'n omgee-munisipaliteit wees wat uitreik na die gemeenskap. So sê ons ook dankie vir die goeie werk wat die onderwysers vir die kinders en gemeenskap doen."
Die munisipaliteit het onlangs ook 'n som geld aan die skool geskenk. "Ons het met die munisipaliteit se skenking die klaskamers laat verf en skryfbehoeftes, speelgoed en opvoedkundige plakkate om die binnekant te verfraai, gekoop," het die hoof, Corine Kortjé gesê.
Die kleuterskool het in 2008 na dié perseel oorkant die woonbuurt geskuif en huisves tans 45 kleuters. Die leerders is in twee klasse met twee- en driejariges, en vier- en vyfjariges verdeel. Buiten Kortjé is Doreen Stride 'n onderwyser, terwyl Luzanne Hendricks die hoof se assistent is.
Die leerders, wat spesiaal vir die burgemeester se besoek wit hempies gedra het, kry soggens pap vir ontbyt en in die middae 'n gekookte ete. Die maaltye word deur twee helpers van die uitgebreide openbare werke program (EPWP) op die perseel voorberei.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'