Gallery Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die groot skade wat deur 'n stormsterk wind en reën aangerig is toe 'n deel van die dak en toring van die eeu oue St Barnabas Anglikaanse Kerk op Heidelberg, vroeg Sondagoggend, 5 Desember inmekaar getuimel het, het die gemeente nie in sak en as gelaat nie.
Die gemeente was reeds besig met hul voorbereidings vir die Kersseisoen se aanbiedinge, onder leiding van Peter-John Davids toe die ramp hulle tref. Die ramp het hulle soveel meer aangespoor om die aanbieding op te voer.
Volgens Davids, seun van wyle akteur Goliath Davids, wat self ’n akteur en regisseur is, is die opvoering ten bate van hul boufonds, asook om die nagedagtenis van wyle Basil Hendricks te vereer. Hendricks was tot kort voor sy dood sowat drie weke gelede deel van die toneelgroep.
“Basil was al die jare ’n ware staatmaker wanneer ons as kerk, asook die Goliath Davids Legacy Project verskeie toneelspele opgevoer het,” het Davids aangedaan gesê.
FOTOGALERY: Kersspel vir kerktoring
Die afgelope naweek, 18 en 19 Desember is twee opvoerings van die ‘Nativity’ in Kairos Senior Sekondêre skoolsaal gehou. Onder die toeskouers was ook die bekende Helene “Ant Kandas” Hendricks, wat albei opvoerings bygewoon het.
VIDEO: Kersspel vir kerk se boufonds
Jul-Mir Geldenhuys, opvoeder en jeugaktivis het as programaanbieder opgetree. Lily Moolman, lekeprediker, het die verrigtinge met gebed geopen.
Die vertellers, Elmarie Jegels en Madalein Scholtz het hulle goed van hul taak gekwyt. Die kerk se blaasorkes en Raoul Moolman, asook Andrew Rossouw het die musiekbegeleiding verskaf.
Davids, wat die rol van Herodus vertolk het, het weereens gewys wat in hom as akteur en regisseur steek. Vader Chassley Fredericks het ook sy rol as een van die hoëpriesters met groot vernuf vertolk.
Peter-John Davids, wat Herodus vertolk, luister saam met sy vrou na die boodskap van die hoëpriesters.
Annelene Hartnick, voormalige opvoeder, wyksraadslid en dramaturg het Sondag se vertoning as ongelooflik beskryf.
Wyksraadslid Abraham Daniels, wat ook as kerkvoog dien, het die bedankings gedoen.
Ten slotte het die orkes afgesluit met die lied, Abide with me as huldeblyk vir die ontslape Hendricks. Die gehoor het hulle, asook die akteurs staande toegejuig.
Die groep akteurs en rolspelers met Peter-John Davids (in middel) het “Christmas Play with a Twist” passievol opgevoer.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'