STILBAAI NUUS - Die NG Kerk in Stilbaai spog na jare weer met 'n kerktoring. Die oorspronklike toring met die kerkklok in die bopunt het 'n hele paar jaar gelede onveilig geraak aangesien die staal in die struktuur begin roes het.
Dit was net 'n kwessie van tyd voordat die toring op die kerk sou ineenstort en strukturele ingenieurs het aanbeveel dat die toring gesloop word.
Dit is toe in 2016 teen groot onkoste gedoen en die finansies om dit te herbou het ontbreek.
SBA Suid-Afrika, wat spesialiseer in die bou van torings en dit dan verhuur aan selfoonmaatskappye, het toestemming gekry om die kerktoring te herbou met geen kostes vir die gemeente nie. Al voorwaarde was dat dit darem naastenby moes lyk soos die oorspronklike toring.
Die staalmas word binne hierdie PVC-struktuur verbloem. SBA gaan die spasie aan die binnekant van die toring aan selfoonmaatskappye verhuur wat hul antennas aan die staalstruktuur gaan heg. Die kerkraad se vereiste van die begin af was dat geen antennas sigbaar sal wees nie en daaraan is voldoen.
Stilbaai se NG kerk spog weer met 'n kerktoring. Foto's: Richard Webb
Die oorspronklike kerkklok is ook teruggesit en is weer op Sondagoggend, 20 November, vir die eerste keer gehoor. Op die kerk se Facebook-blad het Barbara Griessel gesê: "Baie dankie, mooiste geluid verlede Sondag."
En Rhea Beukes se reaksie: "Die mooiste geluid is weer daar. Ons het dit so lank gemis, baie dankie."
Ds. Vian Louw het sy dank uitgespreek teenoor Gys Hofmeyr en sy span wat hard agter die skerms gewerk het om die 25 m hoë kerktoring weer te laat oprig.
Die staalmas van die kerktoring word binne hierdie PVC-struktuur weggesteek.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'