HEIDELBERG NUUS - Die 73 matrikulante van Kairos Senior Sekondêr het Donderdag 20 Oktober hul laaste amptelike skooldag bygewoon, waartydens hulle ook hul eksamennommers in ontvangs geneem het.
'n Ouer, Eddie Kleinhans, het uit Psalms 23 en 27 as motivering vir die eindeksamens voorgelees. Clara Conradie, wat sedert die skool se opening in 1994 as adjunkhoof diens gedoen het en aan die einde van die jaar aftree, was die geleentheidspreker.
Conradie het benadruk dat hulle sukses net van hulself afhang.
"Wat julle insit is wat julle sal uitkry. Onthou spyt is 'n goeie ding, maar dit kom altyd te laat."
Sy het bygevoeg dat dissipline om gefokus te bly en toegewydheid tot jou doel grootliks tot sukses bydra. "Moenie die kans wat julle nou kry, vertrap deur verkeerde keuses te maak nie. Goeie uitslae gaan vir julle deure oopmaak."
Van links is Trevor February, Annelene Hartnick, Sonel Kouter, Quinley Johannes en Alicia Kleinhans.
Sonel Kouter, toppresteerder en duxleerder het haar dank teenoor al die opvoeders uitgespreek vir hul volgehoue vertroue en motivering in haar.
Annelene Hartnick, voormalige opvoeder het namens haarself en Joseph Fielies, 'n oudleerder nou in Kaapstad woonagtig, 'n studiehulpgeskenkpakkie aan drie leerders geskenk.
Sonel Kouter, Alicia Kleinhans en Quinley Johannes is die enigste drie matrikulante wat aan die kompetisie deelgeneem het wat Fielies en Hartnick van stapel gestuur het.
Die matrieks in 'n vrolike bui nadat hulle hul eksamennommers en ander dokumentasie ontvang het. Foto's: Clive Pretorius
Leerders vorm ’n erewag vir die matrikulante terwyl hulle die skoolperseel vir die laaste keer verlaat.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'