Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Pa van twee jong kinders, Pieter Hefke (28), is Saterdag, 7 Mei dood toe hy in 'n fratsongeluk deur 'n voorlaaitrekker op 'n plaas net buite die dorp getref is.
Die ongeluk het ongeveer 16:11 op die plaas, Kransrivier, plaasgevind.
Volgens die plaaslike polisie het die oorledene agter 'n bakkie uitbeweeg en voor die aankomende trekker na die bestuurder gewaai.
Die bestuurder, 'n vriend van Hefke wat op die plaas werk, het probeer wegswaai toe hy die oorledene gewaar, maar dit was te laat. Hefke is getref en het onder die wiele van die trekker beland. Hy het op die toneel gesterf.
Hefke se saamleefmaat, Annamarie Flores, het hartseer vertel dat Pieter voorheen op Kransrivier gewerk het. "Hy wou net sy vriend op die trekker groet, maar is toe ongelukkig noodlottig getref."
Sy het bygevoeg dat sy nie 'n wrok teenoor die vriend koester nie.
Met Suid-Kaap Forum se besoek Maandagmiddag op die buurplaas, Broodkas, waar Hefke werksaam was, het Annamarie bewoë gesê: "Dit was seker net Pieter se tyd."
Buiten Flores en hul twee kinders (onderskeidelik 2 en 8 jaar oud), laat Hefke sy ma, Katriena en 'n jonger suster agter. Begrafnisreëlings was teen druktyd nie bekend nie.
'n Klag van strafbare manslag word deur die plaaslike polisie ondersoek.
Vorige artikel: Jong pa sterf onder trekker
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'