In dié dorp is die Jeugmaandvieringe Sondagmiddag, 30 Junie in die Duivenhoks gemeenskapsaal deur die Wes-Kaapse provinsiale regering met 'n spogfunksie afgesluit. Die verrigtinge wat orkesmusiek, sang en dans items ingesluit het, is deur me. Jennifer Hartnick, LPP geïnisieer en gereël. Nagenoeg 200 aanwesiges, waaronder ongeveer 100 jeugdiges vanoor die Hessequa-streek het die funksie bygewoon.
Me. Emor Nel, uitvoerende burgemeester, het ook die verrigtinge bygewoon en 'n kort toespraak gelewer waar sy veral die provinsiale regering bedank het vir hul bereidwilligheid om die funksie aan te bied.
Die verrigtinge is deur past. John Gertze met skriflesing uit Lukas 15 vers 18, Ek sal opstaan geopen, waarmee hy die jeug bemoedig het om die vele geleenthede wat daar deesdae is aan te gryp. Hartnick het die aanwesiges, deelnemers en die gassprekers, mnre. Dan Plato, minister van gemeenskapsveiligheid, Quinton Adams, boorling van Heidelberg en opvoedkundige sielkundige en Leon Page, drank en dwelm aktivis verwelkom in haar rol as programbestuurder.
Buiten die ernstige en sinvolle toesprake van dié kundiges, was daar ook tyd vir vermaak deur deur onderskeidelik rieldansers van Slangrivier, baldansers van Albertinia, New Born Stars Kersfeeskoor van Slangrivier asook die talentvolle jong sangers, Natasha Kellies van Riversdal en Travino Lotz van Slangrivier.
Page het 'n beroep gedoen op alle bekommerde inwoners om hom te ondersteun om die plaaslike owerhede te kry om 'n verbod op drankwinkels te plaas wat hulle verhoed om Sondae oop te wees. "Dis 'n skande soos ons mense vroeg Sondagoggende by dié plekke saamdrom om drank te koop," het hy gesê. Oor dwelms het hy gesê dat tik nie net 'n groot euwel in Kaapstad en groter dorpe is nie, maar ook in die kleiner plattelandse dorpe 'n bron van kommer is. Hy het die ouers gemaan om altyd te weet met wie hul kinders bevriend is."Ondersteun jul kinders, moenie dat hulle verlore gaan nie". Page het ook die jeugdiges gewaarsku dat 'n negatiewe klad op hul naam vir altyd daar sal wees, met verwysing na oortreders wat na hul vrylating sukkel om aanvaar te word in die samelewing na die uitdiening van hul vonnisse.
Adams, wat hom daartoe verbind het om die euwel van misdaad, asook die dwelm- en drankmisbruik in veral skole met alles tot sy beskikking te beveg, het tydens sy aanbieding van "Dissipline begin by die huis" die aanwesiges daarop gewys dat 70% van die oortreders wat ons kinders seksueel aanrand, aan die slagoffers en hul families bekend is. Volgens hom is huishoudelike geweld ook nou aan die toeneem en veroorsaak struwelinge tussen ouers dat die kind die 'nodige aandag' op die verkeerde plekke gaan soek. Adams het ook die aanwesiges daarop gewys dat wanneer hulle hul kinders vloek, hulle al die negatiwiteite oor hul kinders uitspreek. "Ouers, ons vernietig so ons kinders se selfvertroue en sodoende ook hul lewens".
Ten slotte het Hartnick die jeugdiges aangemoedig om hulle toe te spits op hul studies deur hard te werk om sukses in hul loopbane te verseker.

Die groep het almal hul deel bygedra om die Jeugmaandvieringe in die Duivenhoks gemeenskapsaal af te sluit. Van links staan mnr. Leon Page, me. Emor Nel, mnre. Dan Plato en Quinton Adams, me. Jennifer Hartnick en past. John Gertze. Foto's: Clive Pretorius.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg | Hessequa nuus'