RIVERSDAL NUUS - Op 'n koel herfsoggend, Woensdag 15 Mei, het 23 tuinbouklublede na Stilbaai vertrek vir die maandelikse uitstappie.
Hul eerste besoekpunt was die Tuin-op-die-Brak en Naomi van Schalkwyk, hul gids vir die dag, het die groep vriendelik ontvang.
"Naomi was een van die groot dryfkragte agter die ontstaan en vestiging van die tuin," vertel Anzette Finnemore. "As komiteelid, maar ook plantkundige aan diens, was sy elke dag daar - nie net om te beplan nie, maar ook om self die plantwerk te doen.
Elke aanplanting was botanies korrek vir die Hessequa-streek."
Die Tuin-op-die-Brak is aan die Oostekant van die Goukourivier geleë en loop parallel daarmee. "Met ons uitstappie het ek geweet daar wag baie opwindende oomblikke vir ons. En wat 'n interessante oggend! Geen wonder nie dat dit volgens TripAdvisor een van die toptien dinge is om op Stilbaai te doen."
Die tuin is so deur 'n landskapargitek ontwerp dat besoekers in 'n rolstoel en blinde persone dit kan geniet. Inligting in braille is op bordjies langs die 'raak en ruik'-roete beskikbaar.
"Netjiese inligtingsbordjies help besoekers om meer oor die verskillende plantsoorte en hul medisinale voordele te leer. 'n Boekie van R25 help jou om die bome te identifiseer," vertel sy.
Die tuin spog met 'n analemmatiese sonwyser waar jou skaduwee jou wys hoe laat dit is as jy op 'n spesifieke plek op die datumlyn staan. En as kinders verveeld raak terwyl pa en ma plante kyk, is daar altyd eenbeentjie of 'hopscotch' om hulle besig te hou.
Die groep is hierna met warm tee en koffie en marshmallowtert by die gholfklub bederf. Hul volgende stop was die Tuin op die Duin, wat die opgradering van die walvisuitkykpunt is. Dit word versier met inheemse plante en bankies vir besoekers om op te sit terwyl hulle die uitsig oor die see geniet. Hierdie is nog een van Van Schalkwyk se projekte en is in Oktober verlede jaar begin.
Palinggat se bome en museum was volgende op die lys. Die museum is in die historiese De Jager-opstal wat in 1811 gebou is en die eerste huis was wat aan die westekant van die dorp gebou was. Die museum, met geskiedkundige inligting en items wat die steentydperk uitbeeld, is deur prof. Chris Henshilwood ingehuldig. Die mooiste ou lugfoto's van Stilbaai en selfs die opening van die brug op 26 Augustus 1955, is ook te sien. En wie onthou nog die outydse Voortrekkerkappies?
Die lede het in die museumwinkeltjie items gekoop voor hulle die ou bome in die tuin van die museum besigtig het. Naamplaatjies maak dit maklik om die bome uit te ken, soos die melkhoutboom van 500 jaar oud wat die voortuin verfraai.
Die laaste stop was by die gewilde Nerinasingel-sypaadjietuin. "Hier het almal se monde behoorlik oopgehang. As jy wil sien hoe liefde vir tuinmaak en kreatiwiteit mekaar vind, is hierdie 'n moet op jou besoeklysie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'