RIVERSDAL NUUS - Hulp vir gestremdes en hul versorgers is nou nóg meer bereikbaar.
Goukam Health het onlangs hul diens met twee passievolle personeellede uitgebrei.
Maatskaplike werker Leandri Streicher en maatskaplike hulpwerker Eben January het in September by die span aangesluit.
Streicher was voorheen by Kindersorg in George werksaam. Vier jaar gelede is sy met 'n boer van die omgewing getroud en het na Riversdal verhuis. Sy vertel dat sy 'n passie het om mense en spesifiek gestremdes te help.
January het in 2017 aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool gematrikuleer en daarna maatskaplike hulpwerk gaan studeer. Dis vir hom eweneens 'n roeping om diensbaar in die gemeenskap te wees. 'n Maatskaplike hulpwerker vul die maatskaplike werker in alles behalwe terapie en hofverwante aktiwiteite aan. January doen dus heelwat praktiese groepwerk met inwoners.
Goukam Health se diens op Riversdal bied 'n asemhaalkans aan uitgeputte versorgers van gestremdes deur huisvesting vir 'n maksimum van drie weke te bied. In dié tyd word die gestremde geëvalueer en waar moontlik in handwerkgroepe betrek. Die dienste van 'n arbeids- en 'n fisioterapeut is ook beskikbaar. Indien maatskaplike tussentrede moet plaasvind, neem Streicher die saak verder.
Volgens die kantoorhoof, Ilse Olivier, het hulle groot planne vir uitbreiding oor die volgende drie jaar. Hulle dek die hele Hessequa-streek en heelwat projekte vir fondsinsameling is in die pyplyn. Hulle beplan ook om hul dienste aan die gemeenskap bekend te stel sodat belangstellendes betrokke kan raak. Vir navrae kan Olivier by 028 713 4130 bereik word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'