Update
HESSEQUA NUUS - Die Slangrivier konsolidasie-behuisingsprojek se begroting is met R2 miljoen besnoei.
Die langverwagte Melkhoutfontein-behuisingsprojek se begroting is goedgekeur. Bouwerk kan reeds April begin en tot en met 585 huise kan opgerig word.
Die Wes-Kaapse regering swyg nog oor goedkeuring vir die Heidelberg-behuisingsprojek, waar ongeveer 200 eenhede gebou moet word.
Met die nasionale regering wat landswyd befondsing vir behuising besnoei het, het hulle die Wes-Kaapse regering vir die 2020/2021 finansiële jaar met R331 miljoen minder gelaat.
Vir die 2021/2022-finansiële jaar is die syfers nog onbekend om 'n dak oor nuwe huiseienaars se koppe te besorg.
Nuwe wetgewing oor die toekenning van behuising aan mense op die waglys is onder bespreking en lyk 'n blyplek vir baie nie rooskleurig nie.
Die syfers en verwagte verandering in wetgewing is deur die Hessequa munisipale raad bekend gemaak.
Tydens 'n spesiale raadsvergadering het die ANC-raadslid, Chris Taute antwoorde op die Slangrivier-behuisingsprojek se R2 miljoen besnoeiing gesoek.
"Besnoeiings gedurende die Covid-19-pandemie van die nasionale regering se kant het al die staatsdepartemente geraak en behuising is nie gespaar nie," het die direkteur gemeenskapsdienste, Chris Onrust verduidelik. Sy verduideliking dat die Wes-Kaapse regering volgens finansiële besnoeiings geld by alle munisipale projekte op hul besigheidsplan wegvat, het Taute onrustig gemaak.
"Mnr Onrust se antwoord dat daar besnoei word is nie korrek nie," het Taute gesê. Hy het gesê volgens dokumentasie voor hom is die geld wat by Hessequa-munisipaliteit weggeneem is, aan ander munisipaliteite toegeken. "By Theewaterskloof-munisipaliteit is in plaas van 'n besnoeiing, geld bygesit."
Onrust het verduidelik dat die maatstaf van projek implimenteringsgereedheid gebruik is in gevalle waar geld na ander munisipaliteite geskuif is. "Dit is omrede hulle fisies gereed was om met 'n projek van die grond af te begin."
Raadslid Elias Dayimani het aan Onrust gesê: "So, ons geld is gevat omrede ons nog nie gereed was nie."
Onrust het dié stelling ontken.
James Gelderbloem, wyksraadslid vir Heidelberg, Duivenhoks en omliggende gebiede (Wyk 5) het aan die speaker, Andrew Stroebel gesê dit lyk vir hom of Heidelberg aan die kortste end gaan trek.
Hy het die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, Onrust en die behuisingsdepartement versoek om so gou moontlik 'n behuisingsvergadering in Heidelberg te belê en die besnoeiingsnuus aan die gemeenskap oor te dra.
"Die mense se verwagting is dat daar binnekort huise gebou gaan word. Ek gaan nie met hulle vergader nie."
Vorige artikel: Nasionale regering besnoei befondsing vir huise
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'