Update Video
VERMAAKLIKHEID NUUS - 'n Duisend-liter plastiekhouer wat in die Duivenhoksrivier naby Vermaaklikheid gedryf het, kan moontlik die dodelike onkruiddoder Roundup bevat.
'n Inwoner het die houer van die oorkant van die rivier af opgemerk. Hy het dit in 'n boot genader, maar 'n etiket met die naam 'Roundup' het hom onraad laat vermoed. Volgens hom ruik die vloeistof soos dié dodelike onkruiddoder.
Dit is nie duidelik hoe die houer in 'n raamwerk, wat tydelik met 'n nylontou aan 'n stel houttrappe op die oewer vasgemaak is, daar beland het nie. Dit is ook nie duidelik wie die eienaar van die stuk rivieroewer is nie.
Die 1 000-liter houer is sowat driekwart vol bruin vloeistof. Indien dit Roundup is en in die rivier beland, sal dit die rivier-ekosisteem vernietig. "Die houer moes baie versigtig uit die rivier verwyder word, want sou dit breek, sal so 'n groot hoeveelheid al die dierelewe in die riviersisteem doodmaak," sê Rhett Hiseman, bewaringkundige van Riversdal.
"Indien die gif eers in die rivier beland het, sou dit daar vir 'n lang tyd bly, maar uiteindelik sou dit deur die wortels van inheemse riete in die rivier opgeneem word."
Suid-Kaap Forum het 'n navraag aan Hessequa-munisipaliteit gestuur met betrekking tot die houer en of die inhoud getoets is, asook wat die uitslag daarvan is, maar geen kommentaar is teen spertyd ontvang nie.
Die houer is tydelik met nylontou aan 'n stel houttrappe op die rivieroewer vasgemaak.
Die 1 000-liter houer met bruin vloeistof, vermoedelik RoundUp-onkruiddoder is drywend in die Duivenhoksrivier naby Vermaaklikheid gevind.
Kyk twee video's hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Houer in rivier bevat dalk dodelike gif
'Ons bring jou die nuutste Vermaaklikheid, Hessequa nuus'