MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die Melkhoutfontein-gemeenskapsaal was Vrydagaand, 14 Oktober, stampvol en mense moes selfs staan toe Melkhoutfontein Primêr hul jaarlikse talentkompetisie aangebied het.
Die onderhoof, Reginald Baker, het met die inleiding gewys dat hy eintlik op die verhoog hoort. Vandaar het die kinders gewys waartoe hulle in staat is met sommige wat al letterlik maande geoefen het vir die groot aand.
Die gr. R-klasse het met hulle voordragte die aand aan die gang gesit en hul juffrouens - Morgan, September en Jansen - verdien spesiale vermelding vir wat hulle met hul leerders reggekry het.
Die leerders het meegeding in drama, dans en sang en die gehoor het soms so meegevoer geraak dat hulle die deelnemers doodgesing het. Gelukkig kon die beoordelaars darem nog hulle keuses maak en wenners aanwys uit die 25 verskillende optredes.
Een van die organiseerders het selfs in 'n stadium met 'n seuntjie van die verhoog af gekom, want dié mannetjie het toe skielik net besluit hy is nou gereed om te sing. Ongelukkig het hy nie vooraf ingeskryf nie.
Die voordragte deur die gr. R-leerders het groot byval gevind.
Die aand het weer gewys dat daar soveel talent in Melkies rondloop en dit was eintlik jammer dat wenners aangewys moes word, want om voor so 'n volgepakte saal op te tree verg baie moed en hope selfvertroue.
Die gr. 2-klas van juf. September was die wenners van die junior voordrag en die senior wenner was Stephany de Kock. In die sangkategorie het Simphiwe Goso met die liedjie This Little Light of Mine met die junior titel weggestap en in die senior afdeling het Tamsyn Joseph gewen.
In die danskategorie het die Dream Girls met die junior titel weggestap met die Humble Girls die senior wenners.
Hierdie jaar was daar ook vir die eerste keer 'n kunskategorie wat werklik uitstaande sketse opgelewer het, maar aan die einde is Joanne Rossouw as die junior wenner aangewys en Challdon Peterson as die seniors wenner.
Dit was 'n ongelooflike aand van sang, dans en drama. Die gemeenskap van Melkhoutfontein kan sekerlik nie wag vir volgende jaar se kompetisie nie.
Melkhoutfontein Primêr se onderkhoof, Reginald Baker, was ewe tuis op die verhoog.
Junior dansers gaan flink deur hul passies.
Joanne Rossouw is as die junior wenner in die kunskategorie aangewys.
Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'