Die Landsdiens by die skool is reeds 'n paar jaar gelede gestig met heelwat bekwame vrywilligers oor die jare wat waardevolle diens en insette gelewer het. Die Landsdiensbeweging is volgens Jeanet van Eck 'n omgewingsgerigte jeugorganisasie wat die jeug tot verantwoordelike landsburger lei deur middel van klubaktiwiteite en kampe. Lede word aangemoedig om lewenslank die vier liefdes van Landsdiens uit te leef: Liefde vir die Skepper, liefde vir die medemens, liefde vir die omgewing en liefde vir arbeid.
"Die afgelope paar jaar het ons hierop probeer bou, maar was beperk tot 'n paar kampe in die jaar. Vanjaar is ons opgewonde om te sê dat ons nie alleen staan nie en het hande gevat met die NSRI en CapeNature om een keer per maand bymekaar te kom sodat kinders lewensvaardighede vir die toekoms kan aanleer en kweek", noem van Eck. "Ek is baie dankbaar vir hierdie mense wat hul tyd opoffer vir ons kinders. Lekker om te sien daar is werklik nog mense wat omgee". Sy nooi elkeen uit wat 'n bydrae kan lewer om dit vir die kinders interessant en leersaam te maak om haar te kontak, "selfs al wil u hul net trakteer met 'n koeldrankie".
Die Landsdiens gaan ook hierdie jaar 'n poging aanwend om 'n bussie te bekom wat uitstappies sal vergemaklik. "Vervoer is maar altyd die groot meulsteun en ons hoop om sommer eersdaags daarmee klaar te maak. As u kontakte het, laat weet my asseblief".
Kinders leer van die gevare van die see
Die eerste Landsdiensbyeenkoms het op 13 Februarie plaasgevind by Stasie 31 NSRI basis in Stilbaai. Stasiebevelvoerder Rico Menezies en Arrie Combrinck het die kinders van die gevare van die see vertel en wat om te doen om veiliger in die water te wees. Tydens die volgende byeenkoms gaan die praktiese deel hiervan gedoen word, iets waarna reeds uitgesien word.
Program om na uit te sien
Op 22 Februarie word daar waatlemoenfees gehou by die skool. "Om ons vere reg te skud vir ons eerste kamp vanaf 8 tot 10 Maart in Hartenbos gaan ons kyk of al die toerusting van die skool se 'Army' tent in orde is en dan afsluit met die smerige besigheid, natuurlik eers eet en dan smeer. Lekker taai hare en klere, maar dit is deel van die pret".

Stasiebevelvoerder van Stilbaai NSRI, Rico Menezies gesels met die Landsdiens kinders.