HESSEQUA NUUS - Hessequa Munisipaliteit gaan vanaf 1 September 2024 'n program loods vir die invordering van hondelisensies.
Volgens 'n persverklaring wat die munisipaliteit op Vrydag 2 Augustus 2024 vrygestel het gaan wetstoepassingsbeamptes, geklee in amptelike uniform, alle huishoudings in die Hessequa munisipale gebied besoek.
Die program sal op 1 September in al die onderskeie dorpe in die Hessequa munisipale gebied uitgerol word en deur- tot deur besoeke sal Maandae tot Vrydae vanaf 13:00 tot 21:00 in die aande plaasvind.
Inwoners word die geleentheid gebied om 'n hondelisensie direk by die besoekende beampte uit te neem of indien so verkies, by die naaste munisipale kantoor.
Beamptes sal in besit wees van 'n aanstellingsertifikaat vir identifikasie doeleindes.
Inwoners wat nie onmiddellik 'n lisensie by die besoekende beampte kan uitneem nie, sal 'n tweede besoek ontvang. Indien die persoon nog steeds nie in besit is van 'n lisensie nie, sal 'n boete uitgereik word en sal die persoon 'n skriftelike kennisgewing ontvang om die lisensie binne 'n sekere tyd te bekom.
Tariewe is as volg:
Ongesteriliseerde reun : R 250-00
Ongesteriliseerde teef : R 349-00
Gesteriliseerde reun : R 54-00
Gesteriliseerde teef : R 54-00
Die munisipale verordening is beskikbaar op die munisipaliteit se webtuiste by https://www.hessequa.gov.za/?cdm linkout=MjlwOA==