HESSEQUA NUUS - Die munisipaliteit is onlangs as een van die top-20-munisipaliteite landwyd aangewys, maar dis nie al prestasie wat behaal is nie.
Good Governance Africa, 'n geregistreerde pan-Afrika-organisasie sonder winsbejag, se navorsing wat munisipaliteite se administratiewe, dienslewering en ekonomiese ontwikkelingsaanwysers in ag neem, is pas in hul Government Performance Index gepubliseer.
Die meerderheid (60%) van die top-munisipaliteite is in die Wes-Kaap en sluit Mosselbaai, Swartland, Bergrivier, Kaap Agulhas, Swellendam, Cederberg, Matzikama, Overstrand, en Langeberg in. Almal is onder DA-bestuur, buiten drie wat deur die DA in koalisie met ander partye bestuur word: Hessequa (DA en FF+), Prins Albert (DA en KGP - Karoo Gemeenskap Party), en Witzenberg (DA en COPE).
Hessequa is 'n B-munisipaliteit wat 'n gebied van 5 733 km² beslaan, wat dit die grootste van sewe plaaslike munisipaliteite in die Garden Route-distriksmunisipaliteit maak.
Die gebied is divers, wat bestuursuitdagings bied. Dit sluit dorpe in die binneland, naamlik Riversdal, Albertinia, Heidelberg, Slangrivier, en die kusdorpe Jongensfontein, Stilbaai en Witsand in. Die gebied het ook uiteenlopende landbougebiede tussen die N2 en die Langeberge waar die reënval hoër is, en die gebied tussen die N2 en die Indiese Oseaan waar minder reën val.
Ten spyte van hierdie uitdagings, presteer die munisipaliteit op talle gebiede uitstekend:
- Die munisipaliteit het vir die vyfde agtereen-volgende jaar 'n skoon oudit gekry.
- Stilbaai is aangewys as die Wes-Kaap se kykNET/Kwela Dorp van die Jaar 2019.
- Witsand spog met die eerste sonkragaan-gedrewe ontsoutingsaanleg in die land.
- Hessequa is die derde groenste munisipaliteit in die land.
- Die munisipaliteit spog met ses volwaardige blouvlagstrande.
- Altesaam 1 200 voorlopige titelaktes is by Slangrivier aan huiseienaars oorhandig.
- Die streek het die laagste armoedesyfer (42,6%) van al die munisipaliteite.
Volgens Johan Jacobs, munisipale bestuurder, kan die sukses toegeskryf word aan harde werk en volgehou voldoening aan die vereistes van die Grondwet en wetgewing op plaaslike regering. "Die personeel is toegewyd en ons werk saam in 'n span. Daar is nie 'n groot wisseling van personeel nie, wat beteken dat die munisipaliteit hul werkgewer van keuse is."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'