HESSEQUA NUUS - Betsie van Noordwyk, DA-raadslid vir wyk 7, is Dinsdag 24 November as Hessequa-munisipaliteit se eerste vroulike uitvoerende onderburgemeester verkies.
Van Noordwyk het in Julie 2024 die voorsitterskap van Hessequa se portefeuljekomitee vir tegniese dienste oorgeneem en het ook op die burgemeesterskomitee gedien.
Sy was voorts die sweep van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, voorsitter van Hessequa se Artikel 32-komitee en 'n lid van die munisipale openbarerekeningekomitee (MPAC).
"Dit is vir my 'n groot eer en voorreg om as Hessequa se eerste vroulike uitvoerende onderburgemeester te dien.
Dinsdag het dit amper soos my verjaarsdag gevoel, met soveel mense wat my persoonlik, op WhatsApp of met 'n oproep gelukgewens het. Ek waardeer elke boodskap en elke oproep opreg," sê Van Noordwyk.
"Ek is trots om deel van hierdie geskiedenis te wees. Ek besef ook watter groot verantwoordelikheid die raad aan my toevertrou het, en ek sal dié rol met passie en toewyding vervul.
"My taak is om ons nuutverkose uitvoerende burgemeester, Gerald Boezak, se hande te versterk en hom te help om sy visie en missie vir Hessequa in die praktyk uit te voer.
"Ek glo die burgemeester en onderburgemeester moet as 'n span werk, met een duidelike koers en met duidelike verantwoordelikhede.
"Ek wil my liefde vir tegniese dienste en my ervaring op dié gebied gebruik om dienslewering te verbeter en te help sorg dat projekte wat vir ons inwoners saak maak, deurgevoer word. Só kan ons Hessequa van krag tot krag laat gaan."
Sy vertel dat sy dikwels vir mense sê sy het nie 'n feetjiestaffie waarmee sy dinge sommer kan regtoor nie. "En as iemand wonder of die nuwe pos met een kom, kan ek bevestig dat daar Dinsdag nie een uitgedeel is nie!
"Dieselfde munisipale reëls en regulasies, asook provinsiale en nasionale wetgewing, geld steeds. Dit beteken dat sommige dinge langer vat as wat ons graag sou wou hê, en dat sekere oplossings eenvoudig nie binne die wet moontlik is nie.
"Ek weet hoe frustrerend dit kan wees, veral as inwoners al lank wag. Waar ek kan help, sal ek opvolg, vra waar dinge vashaak en eerlik terugvoer gee oor wat moontlik is," sê sy.
Oor die volgende paar dae gaan Van Noordwyk en Boezak saam sit om die prioriteite vir die termyn te bespreek en Van Noordwyk se ondersteuningsrol uiteen te sit om te besluit hoe hulle vordering gaan opvolg.
"Vir my gaan dit uiteindelik daaroor dat inwoners die verskil in hul daaglikse lewe moet kan sien," sê Van Noordwyk.
- Daar was wel vroeër 'n vroulike onderburgemeester van dié betrokke munisipaliteit, maar dit was toe dit nog as die Langeberg-munisipaliteit bekend gestaan het. Die naam 'Hessequa' kom van die Khoikhoi-gemeenskap wat hier gewoon het en beteken 'mense van die bome'.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’