RIVERSDAL - Die nuutverkose Hessequa-raad vir die volgende vyf jaar ampstermyn (2026-2031) is Dinsdag 24 November amptelik tydens 'n inhuldigingseremonie in die raadsaal van die Riversdal-burgersentrum bekend gestel.
DA-raadslid Gerald Boezak is as Hessequa se nuwe uitvoerende burgemeester verkies nadat hy nege stemme tydens die munisipaliteit se inhuldigings-raadsvergadering ontvang het.
Die opposisiekandidaat, VF Plus-raadslid Hendrik van Staden, het agt stemme ontvang.
Boezak se ma, Elizabeth Boezak, het tydens die seremonie die burge-meesterketting om sy nek gehang.
Onderburgemeester
DA-raadslid Betsie van Noordwyk is as die nuwe uitvoerende onderburgemeester verkies nadat sy eweneens nege stemme ontvang het.
Onderburgemeeser Betsie van Noordwyk. Foto: Sonia Wahl
Die opposisiekandidaat, PA-raadslid Jennifer Hartnick, het agt stemme ontvang.
Speaker
DA-raadslid Tinus van den Berg is as speaker herverkies nadat hy 11 stemme ontvang het. Sy teenstander, ANC-raadslid Michael Williams, het ses stemme gehad.
DA-raadslid Tinus van den Berg is weer as speaker verkies nadat hy 11 stemme ontvang het. Foto: Sonia Wahl
Tydens sy inhuldigingstoespraak het Boezak gesê dat hy nie die posisie as uitvoerende burgemeester van Hessequa ligtelik opneem nie.
Hy het beklemtoon dat hy die mense van Hessequa eerste wil stel en 'n burgemeester wil wees wat toeganklik vir die publiek is.
"Ek wil voortgaan om goeie bestuur uit te bou en geleenthede vir Hessequa se mense te skep.
My visie is 'n veilige, inklusiewe en florerende Hessequa waar almal volhoubare toegang en vooruitgang sal hê," het hy gesê.
PA- proporsionele raadslid Jennifer Hartnick het Boezak gelukgewens en gesê sy is trots daarop dat hy die tweede burgemeester uit die Slangrivier-omgewing is wat dié posisie beklee, en dat haar party met hom sal saamwerk.
Van Staden het Boezak ook met sy verkiesing gelukgewens en gesê die VF Plus sal saamwerk en waar nodig insette lewer.
ANC-raadslid Nadia Joseph het Boezak eweneens gelukgewens en bygevoeg dat die ANC ook bereid is om saam met hom te werk.
Boezak het tydens die vergadering nog nie die lede van sy burgemeesterskomitee aangewys nie.
Die samestelling van die uitvoerende burgemeesterskomitee sal op 'n later stadium bekend gemaak word.
Verteenwoordiging op die raad
Die twee setels wat Hessequa in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sal verteenwoordig, is tussen ANC-raadslid Granwill Moses en DA-raadslid Jobieth Hoogbaard verdeel, een setel elk.
Die DA se nuwe wyksraadslede is Marlin Jansen (wyk 1), Hendrik Jacobus Saayman (wyk 2), Tinus van den Berg (wyk 3), Jobieth Hoogbaard (wyk 4), Betsie van Noordwyk (wyk 7 en uitvoerende onderburgemeester) en Sonja le Roux (wyk 9).
Die party se proporsionele raadslede is Benjamin Smith, Gerald Boezak (uitvoerende burgemeester) en Renée Davids.
Die ANC se nuwe wyksraadslede is Nadia Joseph (wyk 6), Michael Williams (wyk 5) en Granwill Moses (wyk 8), en Sharon Saayman is die party se proporsionele raadslid.
Die VF Plus se proporsionele raadslede is Hendrik van Staden en Marko Matthee. Jennifer Hartnick en Rosaline Jansen is die PA se proporsionele raadslede.
Die 17 verkose raadslede het tydens die seremonie ook formeel hul verant-woordelikhede as verteenwoordigers van die gemeenskap binne die munisipale gebied aanvaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’