RIVERSDAL NUUS - ’n Eenvoudige boodskap aan ’n familielid oor waarheen jy gaan en wanneer jy verwag om terug te keer, kan ure se angs en onnodige polisiesoektogte voorkom.
Só sê sers. Christiaan Jansen van die Riversdal-polisie nadat ’n kommerwekkende tendens van vermiste persone weer in die dorp kop uitgesteek het.
Volgens Jansen plaas dié gevalle groot druk op die polisie se hulpbronne, aangesien elke aanmelding onmiddellik ondersoek moet word, veral wanneer ’n kind vermis word.
Hy doen ’n beroep op ouers en familielede om beter kommunikasie binne huishoudings aan te moedig en seker te maak dat geliefdes vir iemand in kennis stel van hul bestemming en verwagte terugkeertyd.
Dié eenvoudige voorsorgmaatreël kan onnodige kommer en soektogte verhoed en polisiehulpbronne beskikbaar hou vir werklike noodgevalle.
Inwoners word ook daaraan herinner dat daar geen wagtydperk is voordat ’n vermiste persoon by die polisie aangemeld kan word nie.
Kontak Riversdal-polisie by 028 713 8500 of 028 713 8541.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’