HESSEQUA NUUS - AfriForum se Hessekwa-tak het op 5 Augustus 'n skoonmaakaksie in Heidelberg van stapel gestuur in samewerking met die Hessequa-munisipaliteit en lede van die publiek.
Vrywilligers van Riversdal en Heidelberg het bymekaargekom om die dag 'n sukses te maak en rommel op die staproete naby die Heidelbergdam op te tel.
Ongeveer 30 mense het gehelp, waarvan 11 AfriForum-lede was, en saam het hulle meer as 20 swart sakke rommel verwyder.
Die rommel het onder meer uit plastieksakke en -bottels, blikkies en selfs ou motorbande bestaan. Vivian Louwrens, voorsitter van AfriForum se Hessekwa-tak, sê die aksie was nie net goed vir die omgewing nie, maar ook vir die mense.
"Dit was nie net 'n skoonmaakprojek nie, maar ook 'n goeie geleentheid om bande met die publiek te smee. Die bestuur van die tak bedank almal wat deelgeneem en hul tyd afgestaan het om 'n verskil te maak.
"Dit is lekker om te sien hoe 'n gemeenskap bymekaarkom en hoop skep met 'n aksie soos hierdie. Deur verantwoordelikheid vir ons omgewing te neem, skep ons 'n beter toekoms," sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum se Hessekwa-tak beplan nog verskeie ander aksies vir die res van die jaar en moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak.
Kontak Marthinus Erasmus by 081 216 9602 vir enige navrae.
AfriForum se Hessekwa-tak het saam met die Hessequa-munisipaliteit en vrywilligers van Riversdal en Heidelberg bymekaargekom om rommel op die staproete naby die Heidelbergdam op te tel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’