STILBAAI NUUS - Haweloses en bedelaars is nie net ’n Stilbaai probleem nie.
Landwyd worstel gemeenskappe daarmee en ons kan dit eenvoudig nie net onder die mat invee en sê: “Dit is nie my probleem nie.”
Wanneer jy iemand sien bedel, sien jy net ’n oomblik - nie hul hele storie nie.
Almal hier gee om vir mense wat swaarkry.
Almal wil help - die vraag is net: hoe help jy reg?
Party glo om direk geld te gee is omgee. Ander voel dit hou mense vas in ’n siklus. Beide kom uit ’n plek van omgee.
Baie mense op straat het:
- Trauma
- Verslawing
- Geen ondersteuningstelsels
Direkte geld help soms vir die dag, maar nie langtermyn nie. Mense wil weet: “Wat kan ek doen?”
Suid-Kaap Forum het gaan kers opsteek by Cornelia Giliomee, maatskaplike werker by Badisa in Stilbaai.
Giliomee stel voor:
- Dink voor jy gee en kies hulp wat opbou, nie net ’n vinnige oplossing nie.
- Gee kos, nie kontant nie - verkieslik op ’n neutrale plek en nie by jou huis nie.
- Maak klein omgeepakkies wat jy in jou motor hou. (byvoorbeeld brood, blikkieskos, water, seep, ens.)
- Ondersteun plaaslike organisasies en verwys mense na die welsynskantoor in Melkboomstraat, Stilbaai.
- Groet en erken die persoon se menswaardigheid.
- Jy kan help op maniere wat hoop bou - nie net oorlewing vir vandag nie.
Elke mens dra waarde.
Ons roeping is nie net om vinnig te help nie - maar om wys en liefdevol te help.
Giliomee sê die kern boodskap is dat ons almal wil help, maar nie alle hulp help regtig nie.
Kom ons kies maniere wat mense se waardigheid beskerm en hulle help - nie net vir vandag nie, maar ook vir môre.
Badisa Stilbaai se kantoor is in Melkboomstraat 14. Kontak hull by 028 754 2203 of e-pos is [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’