SUID-KAAP NUUS - Inwoners kan van 27 tot 30 November help om die Suid-Kaap se biodiversiteit te dokumenteer deur foto’s van plante in die natuur, swamme en wilde diere op die gratis iNaturalist-toepassing te laai.
Die Groot Suidelike BioBlitz is ’n burgerwetenskaplike geleentheid wat mense regoor die Suidelike Halfrond byeenbring om biodiversiteit aan te teken.
Meer as 54 streke in 15 Afrikalande het reeds vir vanjaar se telling geregistreer.
Enigiemand met ’n slimfoon kan deelneem; spesialiskennis is nie nodig nie.
Foto’s wat in die vier dae geneem en op iNaturalist gelaai word, kan deur die platform se gemeenskap geïdentifiseer en geverifieer word.
Deelnemers kan ook waarnemings wat deur ander opgelaai is, help identifiseer - enige tyd en van enige plek af.
Waarnemings wat aan iNaturalist se verifikasiekriteria voldoen, word opgeneem in databasisse wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) en sy vennote gebruik vir onder meer Rooilys-assesserings, die monitering van indringerspesies en bewaringsbeplanning.
Verlede jaar het deelnemers in 14 Afrikalande altesaam 127 983 waarnemings van 11 582 spesies aangeteken.
Suid-Afrika het 52 387 waarnemings van 6 138 spesies bygedra.
Die Wes-Kaap het die meeste waarnemings en spesies van al die provinsies aangeteken.
Meer as 600 Suid-Afrikaanse plant- en diertaksa van bewaringsbelang is tydens die 2025-telling aangeteken, asook meer as 400 waarnemings van indringerspesies.
Hierdie syfers kan steeds verander namate die iNaturalist-gemeenskap die waarnemings identifiseer.
Gill Simpson, stigter en direkteur van Wild Rescue, wat vanjaar die Groot Suidelike BioBlitz vir die Tuinroetedistrik organiseer, sê elke waarneming dra by tot die kennis wat nodig is om inheemse biodiversiteit te verstaan en te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’