HEIDELBERG NUUS - Te midde van die toenemende dwelmmisbruik landwyd is dit verblydend dat Heidelberg se plaaslike polisie, en veral die misdaadvoorkomingseenheid (MVE), onder leiding van ao. Vuyo Vryman, aktief optree om dwelmhandelaars aan die pen te laat ry.
Die afgelope naweek, van 14 tot 16 Augustus, het Vryman en sy span twee vermeende manlike dwelmsmouse, asook 'n vrou wat na bewering onwettig drank verkoop het, tydens 'n beplande operasie in die Oos-Dorp in hegtenis geneem.
Daar is op verskeie soorte dwelms en drank beslag gelê.
Volgens sers. Keeno Fredericks, plaaslike mediabeampte, het Vryman en drie kollegas - sers. Carlet September, konst. Auburn Bezuidenhout en konst. Jayden Blom - drie persele in onderskeidelik Dollar Square, Diepkloof en Joe Slovo Park besoek en op die dwelms en drank beslag gelê.
Tydens die eerste operasie is 'n 40-jarige man op Vrydag 14 Augustus in Dollar Square op aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem.
Mandrax en tik is glo in sy besit gevind.
Later dieselfde dag is 'n 33-jarige man in Diepkloof op soortgelyke aanklagte gearresteer.
'n 39-jarige vrou is op Sondag 16 Augustus in Joe Slovo Park in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige handel in drank.
Twee mans, onderskeidelik 42 en 67 jaar oud, is ook Sondag in hegtenis geneem.
Die een is in die Oos-Dorp en die ander in Van Riebeeckstraat, voor die poskantoor, op aanklagte van bestuur onder die invloed van alkohol gearresteer.
Ten tyde van publikasie was dit nog nie duidelik wat die status van die onderskeie sake was nie.
Fredericks het gewaarsku dat soortgelyke operasies in die toekoms gereeld uitgevoer sal word en dat daar streng teen oortreders opgetree sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’