HEIDELBERG NUUS - Die dorp is in rou gedompel nadat twee van sy groot geeste binne vier dae weens natuurlike oorsake oorlede is.
Pastoor Jason Riddles (47) en Lloyd Davids (68) was albei boorlinge van Heidelberg, maar het onderskeidelik in Swellendam en Worcester gewoon.
Jason Riddles
Riddles, ’n geordende pastoor en stigter van Cornerstone International Ministries in Swellendam, is Vrydag 29 Mei ná ’n langdurige stryd met sy gesondheid tuis oorlede.
Riddles het ná sy vertrek uit Heidelberg vir die departement van justisie en die Swellendam-munisipaliteit gewerk voordat hy hom voltyds aan die bediening toegewy het.
Op sosiale media word albei as liefdevolle en passievolle mense beskryf wat ’n blywende indruk op die gemeenskappe waarin hulle geleef en gewerk het, gemaak het.
Riddles laat sy vrou Samuela, sy dogter Jillian, sy seun Eli, asook sy moeder en vier broers agter.
Sy begrafnisdiens vind Sondag 7 Junie om 09:00 by sy woning in Soufietjiestraat, Swellendam, plaas, waarna die diens om 10:00 by die VRT Pitt Primêre Skool voortgesit sal word.
Die begrafnis word voorafgegaan deur ’n troosdiens wat Dinsdagaand by die skool gehou is, asook ’n tweede troosdiens wat Donderdagaand by die JF Neumann Memorial Congregational Church plaasvind.
Lloyd Davids
Davids, ’n bekende figuur in die onderwys- en dramabedryf, is Maandag 1 Junie oorlede nadat hy byna ’n maand lank in die waakeenheid van ’n hospitaal in Worcester was.
Davids, die seun van wyle Goliath ‘Oom Gollie’ Davids en oom van die bekroonde akteur en regisseur, Christo Davids, was die eerste manlike dramastudent van kleur wat drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer het.
Lloyd het saam met sy broer, Peter-John Davids, sy susters, Lynn, Gillian en Prudence, asook sy boesemvriende, Alister en Marie Pretorius, die Goliath Davids Legacy Project gestig.
Die projek is in die lewe geroep om hulde aan hul ouers te bring en te verseker dat veral Oom Gollie se nalatenskap nie vergete raak nie.
Benewens sy liefde vir drama was Lloyd ook ’n passievolle opvoeder.
Hy het in 2015 as skoolhoof uit die onderwys getree.
Davids laat sy vrou, Deborah, sy broer en drie susters agter.
Sy begrafnisdiens vind volgende Saterdag 13 Junie by die St. James Anglikaanse Kerk in Worcester plaas. Die tyd van die diens is nog nie bekend nie.
Wyle Lloyd Davids
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’