HEIDELBERG NUUS - Heidelberg Rugbyklub, oftewel Heibi, het gister ná ’n rillerstryd vir Progress Rugbyklub van George naelskraap met 45 - 42 ore aangesit.
Dit nadat hulle rustyd met 31 - 14 voorgeloop het in hul SWDRU Superliga Top 8-semifinaal.
Met die sege is dit hul vyfde agtereenvolgende keer dat hulle in die finale sal meeding, en hopelik sal hulle vanjaar alleenhouers wees.
Beide spanne het nie hul lojale ondersteuners teleurgestel nie en het opwindende, aantreklike rugby opgedis, waartydens daar 12 drieë gedruk is - ses elk per span.
In die twee voorwedstryde het Progress se C-span die span van Grootbrakrivier net-net met 21 - 17 geklop, nadat hulle rustyd met 18 - 10 voorgeloop het.
In die wedstryd tussen die B-spanne van Progress en Heibi het die besoekers naelskraap met 31 - 28 koning gekraai ná ekstra tyd. Dít nadat hulle rustyd 15 - 15 gelykop was en die telling ná gewone tyd 25 elk geëindig het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’