HEIDELBERG NUUS - Die langverwagte tweestryd tussen Heibi en Seagulls het Saterdag plaasgevind te midde van uitdagende weerstoestande, maar het steeds lewendige rugby en stewige aksie opgelewer.
Die tuisspan het uiteindelik met ’n oortuigende 31 - 9 oorwinning in die SWDRU Superliga A-tuiswedstryd geseëvier, nadat hulle reeds met 16 - 3 voor was teen rustyd.
Heibi het vier keer agter die doellyn gaan kuier en só ’n waardevolle bonuspunt verseker – ’n bewys van hul aanhoudende vorm in die liga.
Die dag het afgeskop met Heibi se C-span wat met 36 - 5 teen hul opponente geseëvier het, ná ’n rustydtelling van 19 - 5.
Die B-span het ook sterk vertoon en met 33 - 14 gewen ná ’n rustydtelling van 13 - 7, wat die klub se oorheersing in al drie wedstryde van die dag bevestig het.
Heibi se volgende uitdaging is ’n uitwedstryd teen Blanco op hul tuisveld, bekend as “die Gaatjie”, waar ’n fisieke en kompeterende wedstryd verwag word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’