HEIDELBERG NUUS - Sowat 150 deftige gaste het in ouwêreldse swier tot laataand partytjie gehou tydens die openingproduksie van die sewende Hessequa-harmoniefees in dié dorp.
Die Cape Town Tango-ensemble het die gaste vermaak met die betowering van tango-, wals- en polkamusiek. Dit het die perfekte atmosfeer vir 'n aand van gesofistikeerde pret en plesier geskep.
Die sopraan Lynelle Kenned en die bariton Niël Rademan het die feesgangers meegevoer met hul solo- en duetvertolkings uit operas, operettes en blyspele. Tussen die talle hoogtepunte was Kenned se genuanseerde, emosiegelaaide vertolking van Rodgers en Hammerstein se tydlose lied Edelweiss uit die blyspel The Sound of Music: ‘n vokale kragtoer, gekenmerk aan vaartbelynde, vokale gimnastiek.
Hansie Saayman van Eventco het die dekor ontwerp en die stadsaal in ‘n glansryke Gatsby-stemming ingeklee, gekomplementeer deur die kreatiewe fynbos-blominstallasies deur Diederick Geldenhuys.
Die vier lang tafels is met kristal-eetgerei, kerse en silwer kandelare en volstruisvere versier wat tot die dramatiese temastemming bygedra het.
Die vertoning het drie ure geduur. Tussen het die gaste gesmul aan heerlike vingerete, voorberei deur Lizelle Gschwend van die Ikigai Coffee Bar in Riversdal. Die spyskaart het ‘n verskeidenheid Mediterreense kookkunsdisse verteenwoordig.
Tussen die proesenasies was Thaise-grondboontjie-hoendersosaties, Spanakopita, Chimichurri-frikkadelle, pitapakkies met panko-krummelhoender, Jealapeno-popperkrokette, gekarameliseerde uie- en feta-tertjies, koeskoes met geroosterde groente,'n rits smulhappies gevul of bedek met romerige sampioene, gerookte knoffel, gemarineerde olywe en geroosterde kersietamaties en gebeekte biefsnysels.
Die aand is afgesluit met 'n dekadente baklava-nagereg.
Dit was 'n harmonieuse langaand-tafelfees en 'n spoggerige affêre!
Die afsluitingskonsert word Saterdagmiddag 21 September by die Dasjesdrift-waenshuis gehou.
Die Cape Town Tango-ensemble het die gaste vermaak met die betowering van tango-, wals- en polkamusiek. Hier is Charles du Preez (klankingenieur), Niël Rademan (bariton), Albert Combrink (klavier), Sibusiso Matsimela (kontrabas), Lynelle Kenned (sopraan) Stanislav Angulov (akkordeon) en Dan Shout (saksofoon). Foto: Amelia Uys, feesfotograaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’