RIVERSDAL NUUS - Gangpraatjies dat Andrew Stroebel, speaker van Hessequa-munisipaliteit, die tuig gaan neerlê, is van alle waarheid ontbloot. Hy gaan wel sy politieke rol as die DA-kiesafdelingsvoorsitter ná ongeveer 11 jaar verruil vir 'n groter politiek amp.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het Stroebel aangestel as sy verkiesingsbestuurder vir die groter Oos-streek area wat verskeie kiesafdelings (munisipaliteite) vir 2024 insluit.
In 'n verklaring op sosiale media spreek die DA hul dank uit teenoor Stroebel vir die voortreflike rol wat hy, veral die afgelope 11 jaar, as voorsitter van die kiesafdeling vervul het. Hy het sedert 2009 verskeie rolle by die DA met groot sukses vervul.
Die DA sê, onder andere, die voor-beeld wat hy in Hessequa - ook in die groter streek - gestel het, sal 'n blywende geskiedenis en diepgaande impak los.
Onder sy leiding is Hessequa aangewys as die DA se beste "groei-kiesafdeling" in die Wes-Kaap en ook die party se tweede beste "groei-kiesafdeling" in Suid-Afrika.
Stroebel het aan Suid-Kaap Forum gesê sy werk as speaker van Hessequa word hoegenaamd nie geraak nie en gaan soos normaal voort.
"Maar my politieke rol slaan 'n nuwe en groter rigting in. Ek is dankbaar vir die DA se vertroue om my met so 'n belangrike pos te vertrou. Dis 'n groot streek en gaan baie tyd en energie verg, maar ek sien baie uit daarna."
Die Oos-streek sluit die volgende munisipaliteite en distrikte in: Theewaterskloof, Overstrand, Kaap Agulhas, Swellendam, Hessequa, Mosselbaai, George, Knysna, Bitou, Oudtshoorn, Kannaland, Laingsburg, Prins Albert, Beaufort-Wes, Overberg, Tuinroete en die Sentraal Karoo.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’