Update
HEIDELBERG NUUS - Die dispuut tussen twee bure van Burnstraat in die Oos-Dorp dreig om in die Gelykheidshof te gaan draai nadat ’n vergadering tussen ’n munisipale beampte, verteenwoordigers van die eienaar van Erf 523 en die eienaar van die aangrensende erf (526) op ’n dooie punt uitgeloop het.
Conrad Pietersen, eienaar van Erf 523 waar hy groot geword en later geërf het, is hoogs ontevrede omdat hy geen toegang vir sy voertuie het nie nadat die nuwe eienaar die toegang met ’n hek en draadheining versper het.
Volgens Pietersen was daar vir meer as 46 jaar geen probleem met die toegang vir voertuie oor die aangrensende Erf 526 nie.
Die eienaar van die buurhuis (Erf 526) is egter vroeër oorlede en die nuwe inwoners het die heining opgerig sodat net voetgangers toegang tot sy (Pietersen) erf het.
Pietersen het nou, ná vele onsuksesvolle pogings om die probleem op te los, die hulp van die Hessequa nie-regeringsorganisasie koalisie, onder die voorsitterskap van apostel Freek Prins, genader om hom by te staan.
Na die vergadering op Woensdag 22 Januarie, wat deur die munisipaliteit, tussen Pietersen se bure en die afvaardiging van die koalisie gereël is, het die koalisie se segspersoon, Martin Matunsi, aangevoer dat hulle die saak by die Gelykheidshof aanhangig gaan maak.Ongeveer 30 plaaslike inwoners het Pietersen tydens die ontmoeting van al die betrokkenes buite die erwe ondersteun.
Suid-Kaap Forum het die munisipaliteit vir kommentaar genader en is deur Didi Budricks, segspersoon, die volgende meegedeel:
“Die opmeting wat in die jaar 1934 gedoen is, het slegs ’n voetgangertoegang (1.22 m wyd) na erf 523 op die Algemene Plan (2750) H.51, aangetoon.
“Aangesien die eienaars van erwe 523 en 526 familie was, was daar nooit ’n voertuigtoegang ten opsigte van erf 523 geregistreer nie. Die eienaar van erf 526 het regtens ’n goedgekeurde permit en met die hulp van ’n landmeter, wat die erfpenne uitgewys het, hul erf toegespan. Daarna het die eienaar (Pietersen) van erf 523 nie meer voertuigtoegang tot sy eiendom nie.”
Volgens Budricks is daar net een oplossing en dit is dat Pietersen aansoek doen vir ’n verjaringseis vir ’n voertuigtoegang, aangesien die voertuigtoegang vir ’n periode langer as 30 jaar gebruik was.
“Sou die verjaringseis suksesvol afgehandel word, kan ’n strook van 1,78 m x 27.3 m oor erf 526 en +-20m² oor erf 527 as motortoegang tot erf 523 geregistreer word”. Aldus Budricks.
Budricks waarsku ook dat dit in gedagte gehou moet word dat ’n verjaringseis ’n Hooggeregshofaansoek is en groot onkostes teweeg sal bring.
Woordvoerder Martin Matunsi het egter aangedui dat hulle die pad tot by die Hooggeregshof, asook die Gelykheidshof indien nodig, saam met Pietersen sal stap.
Vorige artikel: Dispuut oor heining
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’