Update
SUID-KAAP NUUS - Die voortslepende droogte van die afgelope drie uit vyf jaar is besig om landbou in die Wes-Kaap ernstig te knou.
"Die provinsie is na afloop van die 2019-reënseisoen nog lank nie uit die moeilikheid nie," sê Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap.
"Vanjaar se winterreën was weer ondergemiddeld en nie genoeg om die landbou uit sy droogtetoestand te kry nie. Plaasdamme bly leeg en die landbou kan hom gereed maak vir nog 'n moeilike seisoen. Daar is talle besproeiingsdamme wat skaars 50% vol of dolleeg is. Weiveld in ekstensiewe gebiede het nie genoeg reën gekry om te kan begin herstel nie."
Leë besproeiingsdamme
Al het damvlakke in Hessequa bietjie gestyg na die onlangse reën, is die Korentepoortdam steeds net 50% vol. "In die Klein-Karoo is besproeiingsdamme feitlik droog," sê Strydom. "Die Poortjieskloofdam, wat vrugte- en wynprodusente in die Kannaland-gebied vir besproeiing nodig het, staan op 0%; die damvlakke van die Kammanassiedam (1,8%) en die Stompdriftdam (6,6%) wys duidelik op die enorme krisis waarin produsente van dié streek hulle bevind." Hulle het dié damme nodig om onder meer lusern en uiesaadlande te besproei en vir water vir vee.
"Waar die Agri Wes-Kaap Droogte-hulpfonds die afgelope paar jaar hulp kon verleen in terme van veevoer vir rooivleisprodusente, het die situasie nou só benard geraak dat ons nie meer 'n keuse het as om die beperkte beskikbare fondse na humanitêre hulp te kanaliseer nie."
Uitvoere 25% af
Rolspelers in al die landboubedrywe het die invloed van die droogte tydens 'n vergadering wat deur Agri SA op 13 November in Centurion gehou is, toegelig. Daaruit het dit geblyk dat Wes-Kaap se landbou-uitvoere die afgelope vyf jaar met 25% afgeneem het. Die Wes-Kaap dra 24% van die bruto binnelandse produk van die land by, waarvan 4% van landbou afhanklik is. Landbou en -verwerking bied 215 000 (18%) werkgeleenthede in die provinsie.
Graan
Volgens die jongste oesskatting in die graanproduserende Overberg en Hessequa het graanproduksie van 1,86 miljoen ton in 2018 tot 1,69 miljoen ton in 2019 afgeneem. Ten spyte daarvan dat meer hektare aangeplant is, het die jaar op jaar produksie met 208 000 ton afgeneem. Boonop gaan 40% van die garsoes nie aan SA Brouerye se standaard voldoen nie.
"Veral in die Swellendam-omgewing is uitstaande landbouskuld 'n kommerwekkende probleem," het Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA gesê.
Rooivleis en suiwel
Die invloed van die droogte op rooivleisprodusente het gelei tot 'n dramatiese afname in die aantal beeste en skape wat geslag is, terwyl die slagsyfer vir varke marginaal toegeneem het. Veekuddes is minstens gehalveer sodat net kernkuddes oorgebly het. Die uitbreking van bek-en-klouseer het vleis- en veseluitvoere verder benadeel. Die suiwelbedryf in die provinsie het met 42% afgeneem. Dit kan toegeskryf word aan die skaarsheid van ruvoer, die gebrek aan water om graan vir voer aan te plant, die styging in prys van byvoedingkonsentrate en die daling in die aankoopprys van vars melk.
Agri Wes-Kaap doen 'n beroep op die gemeenskap om die hul droogtehulpfonds te ondersteun. Meer inligting is op die Agri Wes-Kaap se webwerf by www.growinggreatness.co.za of op die Facebook-bladsy beskikbaar.
Lees 'n vorige artikel: Groot kommer oor droogte
'Ons bring jou die nuutste Hessequa, Tuinroete, Karoo nuus'