STILBAAI NUUS - Die grondslagfase leerders van Melkies het Dinsdag 2 November besoek van die Hessequa-nooddienste ontvang.
Cassidy Fortuin van die provinsiale brandweerdiens in Riversdal het die besoek gereël, want hy voel sterk dat die jong kinders bewus moet wees van die gevare om hulle en dat hulle ook moet weet wat die taak van die nooddienste is.
Nadat hy verduidelik het hoekom hulle soms laat by 'n toneel opdaag, gebrek aan voertuie en mannekrag byvoorbeeld, het hy gesê dat hulle graag die kinders se vriende wil wees en dat hulle staatmaak op die gemeenskap se ondersteuning.
Adjudant-offisier Hans Busch van die Riversdal-polisie het die kinders gemaan om gesond te lewe en weg te bly van die versoekings van drank en dwelms.
Hy het ook gesê dat hulle by die skool is om te leer en nie om onderwyser te speel nie.
Nadat al die rolspelers met die kinders gepraat het is 'n demonstrasie van 'n motorongeluk op die N2 gedoen en hier het die ambulansdiens, brandweer, polisie, verkeer en wetstoepassing gewys wat elkeen se rol is by so 'n ongelukstoneel.
Die leerders het ten spyte van die warm son die demonstrasie baie geniet en lustig meegedoen.
Fortuin het deurentyd die noodnommer, 10177, by die leerders ingeprent.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’