"Ek soek nie sensasie nie." Haar woorde allitereer in my oorholtes. En net daar, soos in oombliklik, verloor ek belangstelling in 'n potensiële storie.
Sy voel tevrede, want sy het haar sê gesê, op Facebook. Maar om 'n storie daarvan te maak, vir die koerant, voel skielik anders. Dit is haar reg. Dit is ook my reg om te sê: "Wel, dit is goed so." En aan te beweeg.
Toe kom die afterthought van haar: "Ek sal jou laat weet as ek vir almal wil dankie sê. Dan kan jy iets doen. Dan soek ek dit in die koerant."
Ek glimlag aan dié kant van die foon. Dit gaan nooit gebeur nie. Hoe is ek goed genoeg vir 'n dankiebriefie, maar ek is nie goed genoeg vir 'n storie nie? Weet jy nie ek leef vir stories nie? In elk geval, mevrou, jy het die s-woord gebruik. Ons is nie meer maats nie.
So kom boelies in baie vorme. Moenie dink hulle loop net op die skoolgronde rond nie. Dit is dalk waar dit alles begin, maar dit eindig nie daar nie. Ek volg tans 'n televisiereeks wat nou op Netflix draai, 13 Reasons Why, wat gaan oor hoekom 'n hoërskoolmeisie selfdood gepleeg het. Ek het begin kyk, en nou kan ek nie ophou nie.
Die filosofie van boelie is eintlik heel kompleks, en tog eenvoudig op 'n manier. Terwyl ek gisteraand na nog 'n paar episodes kyk - want dit voel of ek op vakansie is nadat die kinders klaar is met eksamen - besef ek weereens dat elke persoon tog maar goed en sleg in hulself het.
Sommige meer van die een as die ander. Ek dink dit begin alles met hoe ons slegte goed hanteer wat met ons gebeur. Die sleg begin in die huis, dit loop oor na jou hart en siel, en dit speel uit op die skoolgrond, by die werk, in jou verhouding.
Ons is vandag in die eerste week van 16 Dae van Aktivisme van Geen Geweld Teen Vroue en Kinders. Goeie genade, ek wens die slogan kon korter wees. Sestien dae van aktivisme teen boelies. Want seuns kry ook seer, en dit is tog waar die nonsens begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’