RIVERSDAL NUUS - 'n Kragtige boodskap van solidariteit het Woensdagoggend in Riversdal se strate weerklink toe 'n optog, as deel van die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders-veldtog, groot aandag getrek het.
Verskeie organisasies het kragte saam-gesnoer, onder meer die Hessequa-munisipaliteit, Riversdal-polisie, verkeer, brandweer, wetstoepassers, Working on Fire, Mosaic, ACVV, Kinder- en Gesinsorg, Droom, Women for Change en verskeie gemeenskapslede.
Die optog het vooraf begin met gebed voordat die groep na die burgersentrum vertrek het.
By die sentrum het ao. Hans Busch die program gelei, en past. Ivan Mangaliso het die verrigtinge met gebed geopen.
Verskeie sprekers het na die verhoog gekom, insluitend onderburgemeester Gerald Boezak en Channel Swartz, bestuurder van beskermingsdienste.
In 'n besondere gebaar van omgee is geskenkpakkies aan geïdentifiseerde lede van die gehoor oorhandig.
Na afloop van die verrigtinge het ao. Busch sy dank uitgespreek aan almal wat betrokke was, en goeie wense vir die komende feesseisoen uitgespreek.
Die dag se program is afgesluit met 'n padblokkade by Jurishpark, waar al die rolspelers hande gevat het om veiligheid vir die feesseisoen te bevorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’