RIVERSDAL NUUS - Met heelwat nuwe lede vertrek die Green Fingers-tuinbouklub op 14 Maart met twee bussies na Mosselbaai.
Die eerste stop is by Johan Alberts en Hennie Cronjé. Hulle tuin is vyf jaar oud, 1 800 m² groot en was in 2015 tuin van die jaar. Dit het pragtige gesonde plante, aangevul met 'n spuitfontein, besondere potte en klipwerk. Die pergola met stoele is 'n wenner.
Daarna is Wilma en Richard Joubert se tuin aan die beurt. Dit is 'n goeie voorbeeld van 'n tuin met lae instandhouding. Fonteine met mooi beelde, besondere vetplante en klippe van verskillende kleure en groottes vorm saam 'n prentjie.
Die tuin beskik oor geen bome buiten heelwat palms nie. Die swembad en lapa is 'n lekker kuierplek.
By die Diaz-museumkompleks is daar iets vir uiteenlopende belangstellingsvelde. Die besoekers vind die voorbeelde van inheemse plante en medisinale gebruike baie interessant.
'n Heerlike middagete by Die Ou Pastorie in Groot-Brakrivier word deur almal geniet. Lillën de Jager, organiseerder van die dag trakteer elkeen met 'n glasie vonkelwyn, wat bydra tot die gemoedelike atmosfeer.
Lede van Green Fingers-tuinbouklub op Riversdal.
Na ete besoek die groep Marietjie Bam se tuin, 'n kombinasie van akkers en potte met plante. Beelde en yster ornamente voltooi die prentjie - ongelooflik omdat die tuin slegs sewe maande oud is.
Die dag word afgesluit met Una Vorster se waterwyse tuin. Hoofsaaklik vetplante, maar tog ook ander plante tussenin. Geen grasperk, maar wel plaveisel, klippies en 'n houtdek.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'